1618 Views |  Like

Botrivier blom met ’n lentenaweek

Die klein, hegte wynmaak-gemeenskap van Botrivier, is aan’t woel vir die jaarlikse Lentenaweek wat beloof om van 2 tot 4 September 2016 ’n hutspot van alles wat uitstaande en ekslusief is, in dié onbesonge Overbergse juweel aan besoekers te ontsluit.

Botrivier spog met 11 wynplase – meeste in familiebesit en -bestuur – én van die land se onafhanklike wyndenkers. Gedurende die Lentenaweek sal elkeen iets uniek uit hul plaaskombuis deel; hetsy dit olyfolie, varsprodukte, deli-geregte, eerlike wyne, plaasprodukte, of plaaslike talent is, dit sal ’n smorgasbord-kuier wees uit Botrivier se lekkerbek-spense.

“Botrivier se ontspanne lewensbenadering en die speelse kameraderie onder die wynmakers, is aansteeklik en laat jou bykans onmiddellik deel van die gemeenskap voel. Asof ons opregte gasvryheid nie genoeg is nie, kan jy ook die pragtige rit na ons Botriviera, onderneem. Dis veral hierdie tyd van die jaar wanneer die groen lande en helder kanolavelde beslis die wip in enige moeë stadsiel se stap sal terugsit,” glo Kobie Viljoen van Villion Wines en huidige voorsitter van die wynroete.

Hierdie hartvormige dorpie bied egter veel meer as net goeie wyne en vars lug. Dit sal jy gou agterkom gedurende die Lentenaweek, waar tuisgemaakte heilsaamheid vermeng word met die dorpie se ontspanne karakter en kontreigasvryheid, wanneer jy met die gawe plaas-eienaars en wynmakers kuier.

“Een dag in ons geselskap gaan egter nie genoeg wees nie; daarom gooi ons ons harte en arms vir die hele naweek oop, sodat besoekers ons passies en plesiere kan proe, ervaar, deel en onthou. Dis dié elemente wat ons van ander wynroetes onderskei en dan gooi ons boonop vate vol pret in, net om seker te maak jy is skoon oorbluf met ons,” verduidelik Melissa Nelsen, Cap Classique-kenner en skepper van die Genevieve MCC.

Die Botrivier Lentenaweek skop in alle erns op Vrydag 2 September af met ’n Botrivier Magnum Manjifiekheid wat deur sommeliers by Beaumont Wynlandgoed – een van die oudstes in die vallei – gelei sal word. Plaaslike produsente sal hul ‘groot menere agter uit hul kaste haal, sodat van Suid-Afrika se voorste sommeliers dit met heerlikhede kan pasmaat.

Saterdag en Sondag (3 & 4 September) sal die plase langs die 10 km enklawe – ’n skrale uur se ry van Kaapstad – besoekers verlei met hul ware talente en geure. Dit sluit onder meer in ’n worsmaak-kursus by Luddite Wyne, bekend vir sy tegnologie-awersie wynmaak-filosofie. Hier sal Genevieve MCC entoesiaste kan teug en smul aan oesters en vonkelwyn en ook magnums van die pasvrygestelde 2012-oesjaar kan koop.

Natuurliefhebbers sal hulself ook gate uit geniet by die Ecology Lifestyle Farm, met spesiale aanbiedinge op fynbosplante by hul kwekery en Paardenkloof wynproeë en pasmaats om die smaakkliere te prikkel. Of hoekom vul jy nie jou eie piekniekmandjie met plaasvars heerlikhede, wat alles saam met lewendige musiek bedien word, terwyl die kinders aan die plaasdiere kan vat.

’n Hoogtepunt van die Lentenaweek is gewis die Pink Gin & Bubble Polo aand by Maramanna Polo Landgoed, wat die dag se vermaak met adrenalien-aksie, plaaslik-vervaardigde jenewer en ’n vonkelwyn-kroeg sal afsluit.

“Ons sal vonkel-sokker beskikbaar hê vir diegene wat lus is vir ’n vinnige speletjie – die groot opblaas balle waarin kinders gewoonlik speel; maar dié keer vir grootmense. En stel jou voor, hulle probeer doele deur doelpale skop! Dit behoort lekker kykgenot te verskaf terwyl ons aan vonkelwyn en G&T’s teug,” giggel Penny Verburg van Luddite Wyne.

Die Lentenaweek 2016 beloof Botrivier-hemel op sy beste en al die plase sal op beide dae van 10vm tot 4nm oop wees. Kaartjies is beskikbaar by www.quicket.co.za en ’n naweekpas kos R100 per volwassene wat ’n wynglas; inligtingsboekie wat by die toerismekantoor oorkant die hotel opgetel word en twee heerlike dae, insluit.

’n Beperkte aantal kaartjies vir die eksklusiewe Magnum Proe & Aandete by Beaumont kos R450 per persoon en sluit raar keldervrystellings, wonderlike kos en sommeliers-uitmuntendheid in. Kaartjies vir die Pink Gin & Bubble Polo-sononder-partytjie wat om 5nm begin, kos R150 per persoon en sluit ’n verwelkomingsdrankie, ’n gelukkige boks met lente versnaperinge en die vonkelwyn-sokker-aksie in.

En sal jy vervoer waardeer? Teen R100 per dag per persoon, kan jy na die plase van jou keuse aangery word.

Besoek Botriver Wine vir akkommodasie-opsies in die area.

Facebooktwitter