Etienne van Heerden – steeds in die pylvak van skryf


Geskryf deur Elize Parker

Etienne van Heerden se jongste roman lewer kommentaar op die lewe vandag in die land met vervreemding, migrasie, domheid, stereotipering en onderdrukking as temas, maar sy hoofkarakter gaan maak ook draaie in Hongkong en Amsterdam.

“Ek het skielik eendag daar in Markstraat in Cradock die hoofkarakter in my nuwe roman, Charlie Oeng, in my geestesoog sien verbykom met sy punthoed, sandale en katoenbroek. Ek het geweet hier is ’n storie, maar het geen idee gehad dat die verhaal oor liefde en moord, verwerping en migrasie sou gaan nie,” sê Etienne van Heerden.

Die wêreld van Charlie Oeng (Tafelberg) is die verhaal van ’n man in sy liefde verlaat wat ná vele omswerwinge vanaf Amsterdam, waar hy die brutale kant van die lewe leer ken het, ná ’n paar vlugtige interludes in die Ooste, na die soutpanne in die Oos-Kaap vlug.

Van Heerden verwys na Markstraat, Cradock, waar ongeveer 30 historiese huisies in een straat gekoppel is aan die nooitvolprese Victoria-hotel wat Sandra Antrobus opgekoop het en herstel het. Sy noem dit die tuishuise.

Een van die huise is na hom genoem en sy boeke die afgelope paar jare is onder meer daar geskep. “’n Skrywer moet eerder met ’n prentjie begin werk as ’n tema. En die prentjie was Charlie Oeng wat oor die brug loop met ’n sak sout op sy kruiwa. Nou soek jy nog prentjies. Jy voel ander dinge in hom aan. Vuurwerke. Skoenlappers. Bloed.”

In die Hertzogpryswenner se roman lê daar veel spore van sy vorige romans.

Amsterdam dien as agtergrond soos in 30 nagte in Amsterdam. Daar is ook iemand wat blindweg die siende raak kyk soos die doofstom en blinde klipsnyer Mario in Die swye van Mario Salviati.

Ná hierdie roman sê Van Heerden juis hy besef skielik watter rol siende blindwees of die blinde siendes in sy boeke speel. In Kikoejoe was daar juis klein Fabian met sy een oog. In hierdie roman is dit die blinde Ouma Ogies wat so met die voorsienigheid geseën is. “Dit is wonderlik om te dink ons kan verby die blindheid van ons hierwees sien. Die storieverteller moet kan loop waar ander, en jyself, nog nooit gekyk het nie. Ek is blind in die eenoog gebore en daarom, reken ek, is dit ’n kwessie wat by my spook.”

Amsterdam ken hy goed, maar ook hier het hy dinge uit ’n nuwe hoek benader. “Hierdie keer was die lekkerste om tydens navorsing saam met ’n Nederlandse vriend, Maurice Jorrisson, in sy bootjie op die gragte te vaar en die Chinese buurt en omliggende dele van Amsterdam te verken.” Die kopskuif oor die karakter en die storielyn het egter vir hom gekom toe hy Kowloon en Hongkong-eiland besoek het, verduidelik Van Heerden. Van die belangrikste tonele in die roman het hy daar gaan haal op plekke soos die ou teehuis, in die woelige Nathan Road-gebied, teen die steiltes op waar die woonstelle stapel tot bo “waar die arende teen die bosse draai”. Maar natuurlik het die boorling van die Oos-Kaap ook ’n draai in sy heimat saam met Oeng gemaak. Die politieke situasie in die Oos-Kaap in die sestigerjare is deel van die verhaallyn.

“Die roman lewer direk kommentaar op ons lewe vandag die met die ooreenkomste van destyds in dié landsdeel uitgelig soos dié van vervreemding, migrasie, domheid, stereotipering en onderdrukking.”

In sy geval, sê Van Heerden, is die landskap altyd een van die hoofkarakters in sy boeke. “My onderbene is ingemessel in Afrika en dit blyk uit my skryfwerk.”

Hy het egter nie doelbewus probeer om ’n teks te skep wat oor die Chinese teenwoordigheid in Afrika vandag gaan nie.

“Daar was nie vooraf ’n besluit nie: Ah, China is besig om Afrika te koloniseer en ’n roman daaroor sou gepas wees. Ek wou Charlie Oeng se vreemdheid ondersoek.”

’n Goue koord loop deur die teks as die aanwysings oor 36 krygs- taktieke in die 36 hoofstukke van die boek. As een van sy verwysings oor Chinese krygskuns het hy die bekende militêre strategieboek The Art of War gebruik.

In handleidings soos hierdie is konvensionele Chinese krygstaktieke gegrond op edele dinge soos leierskap, militêre intelligensie en die talent vir krygsmaneuvers. In die krygskunshandleiding waaruit daar aangehaal word as motief vir
elke hoofstuk, is dit egter die minder edele taktieke wat Charlie Oeng inspan soos dié van misleiding, spioenasie en vals beskuldigings.

“Dis advies om te wen, ten alle koste,” benadruk Van Heerden. Met hierdie navorsing het albei sy dogters knap handjie bygesit. “Albei knetterslim kinders en hul instinkte oor wat my sal help, is altyd raak.”

Menán het tekste nagespoor oor die Chinese gemeenskap in Suid-Afrika en het gesorg dat hy weet hoe Hongkong in die jare sestig gelyk het deur visuele material te versamel. Imke, ’n ervare reisiger, het hom logisities seepglad deur Hongkong geneem sodat hy net kon kyk en navors. As reisgenoot en lewensgenoot het sy wederhelfte, Kaia, ook weer die skryfpad met dieselfe belangstellings en vrae gedeel.

“As jy met iemand meereis, moet jul nuuskierighede ooreenstem.” Sy is al jare sy eerste leser “met ’n uitsonderllike oog vir struktuur”. Sy worstel saam met hom deur die variante van ’n ontwikkelende manuskrip.

“Sy het nog nooit ’n nale boek van my gelees sonder dat sy die verskeie snitte en variasies van die verhaal vooraf gesien het nie. Ek hoop dat ek eendag op my eie bene sal kan staan met die skep van ’n manuskrip sodat sy net die voltooide weergawe kan lees!”

Alhoewel hy nou emeritus-professor aan die Universiteit van Kaapstad sedert 2016 is, was daar nog nie veel tyd vir asemskep nie. “Dit het net te veel vir my geraak om by die universiteit aan te bly, www.litnet.co.za te bestuur en nog ’n skrywer te wees.

Ek dryf sewe dae van die week aan LitNet.”

Hy was skaars weg van die universiteit toe is hy Londen en Nederland toe vir werk. Dit was vir hom veral lekker om terug te wees vir seminare by die Universiteit van Leiden waar hy destyds die eerste inwonende skrywer uit Afrika aan die universiteit was.

Deesdae vind jy hom ook so vir die gesondheid en die lekker se onthalwe ook op ’n ets iewers in of buite Stellenbosch. “Ek bly verslaaf aan die karigheid van die veld en die skittering op die see as jy noord kyk by Bekbaai in Paternoster. En hier in Stellenbosch bly ek verknog aan dennebolle optel, etsry, kaggel maak en die berg. Dis nou die ononder- handelbares in my lewe.”

Alhoewel hy onlangs ’n ribbe of wat met ’n valslag beseer het, is Van Heerden “koning van die afdraande. Hierdie Stellenbosse berg- etsryers lyk soos Marsmanne so opgetof is hulle. Opdraande skiet hulle by my verby. Maar op die afdraande oortref ek hulle.”

Ook in die kuberpylvak bly dit vorentoe vir Van Heerden. “LitNet moet voorbly as ’n leier van denke in die Afrikaanse wêreld.” Werksgewys gaan hy juis nou baie meer konsentreer op LitNet en LitNet Akademies.

Die webwerf vir letterkundeliefhebbers en denkers wat debatte en kopstimulasie soek het reeds 153 000 unieke gebruikers in Mei 2017 gehad, iets waarop hy trots is. Vir briek aandraai is daar dus nie vooruitsigte nie. Selfs ná sy viervoudige hartomleiding op 47 het die ewige reisiger ook nie tot stilstand gekom nie.

“Ek wou toe ook nie kop gee met lewenslus en werkenergie nie. Maar dalk het dit ’n soort verdieping gebring. Met elke boek probeer ek maar deur die vuurhoepel spring sonder om neer te slaat.”

By | 2017-07-31T21:00:26+00:00 July 20th, 2017|Boeke|