Elize Cawood vereer met haar eie roos

Die bekroonde en gewilde aktrise Elize Cawood het die afgelope naweek ʼn pragtige wit roos met sagte pienk skakerings…met haar eie naam ryker geword. Die Elize Cawood-roos is deur Suid-Afrika se ‘rooskoning’, Ludwig Taschner van Ludwig’s Roses, aan haar oorhandig uit erkenning vir haar bydrae die afgelope 40 jaar tot Suid-Afrika se teater-, rolprent- en TV-bedryf.  Ten aanskoue van talle genooides en besoekers aan die jaarlikse Rosefees op Ludwig se roosplaas, is die Elize Cawood-roos gepas met vonkelwyn ‘gedoop’.

 

Elize, wat haar liefde vir tuinmaak by haar pa en ma op hul plaas in die distrik Bothaville geëerf het, is self ʼn geesdriftige en passievolle tuinier wat veral van wit rose hou. Sy het haar gelyknamige roos uit honderde proefrose op Ludwig’s Rose Farm, noord van Pretoria, uitgekies.

Die Elize Cawood-roos spog met pêrelwit blomkelke met ʼn sagte pienk kern. Elke blom het die perfekte, klassieke vorm van die hibriedteeroos, wat dit ʼn uitstekende tuinroos maak met ‘n groot aantal blomme vir die pot – ʼn aanwins vir enige tuin!

By | 2017-10-17T12:07:53+00:00 October 11th, 2017|Uncategorized|