Eben Venter: 10 erotiese ervarings


Geskryf deur Marguerite van Wyk

Eben Venter, die Suid-Afrikaans gebore Karooseun wat al sowat 31 jaar in Australië woon, se nuutste boek is in Julie op die rak. Groen soos die hemel daarbo wentel om ’n stuk of tien erotiese ervarings oor die hele wêreld heen. En dis oorspronklik in Engels* geskryf …

Die titel is ontleen aan die Xhosa-woord vir blou – luhlaza okwesibhakabhaka – vertel die bekroonde romanskrywer Eben Venter. Hy vertel dat daar in Xhosa nie ’n woord bestaan vir blou nie, en dit beteken letterlik, “groen, soos die hemel daarbo” en “slaan dus op ’n ding wat byna, maar nie heeltemal, uitgedruk kan word nie”.

Dit is die relaas van hoe Simon Avend, die hoofkarakter, saam met sy alternatief neigende psigoanalis, probeer om sy ervarings uit te pluis. “Miskien sal die lesers vra: maar hoekom die detail? Dié dinge hoort beter tussen die lakens. Maar ek wou dit juis so opskryf en aanteken in ’n poging om die moontlikhede van seks te probeer vaslê. Net om uiteindelik vas te stel dat hoe dieper en hoe helderder ons begrip van seks is, hoe groter is die beperkings om dit uit te druk. In woorde, altans.”

Venter en sy wederhelf van baie jare, Gerard, ’n Ierse landskapargitek, woon in ’n groot dorp, Lismore, naby die verre oostelike punt van Australië se Nieu-Suid-Wallis. Dit is ’n diverse gemeenskap van ou, Protestant-Skotse melkboere, hippies, enorme gay- en lesbiese kontingent en die oorspronklike Bunjalong-mense – almal baie verdraagsaam en inklu sief, vertel hy. Maar reënwoude en skoon, oop strande kan die hunkering na die stad nie altyd stil nie …

Dít is wel waar hy skep. In sy studeerkamer wat oos front, by sy ou lessenaar wat hy nog van Suid-Afrika saamgebring het. “Ek dink dit kom nog uit ’n ou spoorwegkantoor.” Daar het hy ononderbroke en bekostigbare tyd om te skryf.

Dit ís selfs vir ’n ervare skrywer soos Venter ’n reuse-dissipline om elke dag te skryf – al is daar ritse bekronings agter sy naam, en waarvan M-Net se letterkundetoekening vir Santa Gamka (2010) sekerlik een van die vernaamstes is. “Niemand, behalwe ek, ‘tjek’ of ek werk toe gaan nie. Jy durf ook nie op ‘skoolaande’ ’n enkele bier te veel drink nie, anders is jou skryfbrein effe aangeslaan en werk nie soos jy dit graag sou wou hê nie.”

Hy het sowat twee jaar – met al sy navorsing en aantekeninge – geneem om dié roman te voltooi. “Ek het stip gelees aan die Franse losoof Michel Foucault se heraktivering van die klassieke Grieke se idees oor seksualiteit.” Venter meen skrywers is, veral in die dae van sosiale media en veranderde leespatrone, effe “waansinnig”. “Jy werk twee jaar aan ’n stuk werk en dan pluk jy waarskynlik nooit die monetêre vrugte van jou arbeid nie. En tog …”

Hy verwys na homself as ’n “stadige skrywer”. Dié boek het hy uit die staanspoor in Engels geskryf. “Ek het die delwing in die Engelse woordeskat geniet, die aanhoudende naslaan van die oorsprong van woorde, byvoorbeeld ‘emasculate”, wat kom van die Latynse emasculare, wat kastreer beteken. Stadigaan, met die eindhulp van ’n kopieredakteur, het my storie in Engels begin loop kry.” Hy glo voorts om die private tonele met “klein en groot kwashale” te teken, en Engels het hom die nodige afstand daarvoor gebied. “Dat die kwylstories darem nie klink soos uit die destydse Loslyf nie.”

Toe die roman in Engels voltooid was, het hy die “tienlittige storie” in Afrikaans vertaal. “Op die anderkantse oewer het dit sy eie woorde, sinsbou. en ritme gekry. Dit was lekker om te doen. Op die ou einde hoef jy nie te wonder oor wat nou eintlik die oorspronklike storie en wat die vertaling is nie. Elkeen staan as onafhanklike skepping op sy eie bene.”

Dié roman is ook deel van sy doktersgraad aan die Universiteit van Queensland, waar hy ’n beurs gekry het, aangesien dit deel vorm van aspekte van selfvertaling. “Dit is ’n pragtige kampus met sandsteengeboue op die oewer van die Brisbane-rivier,” vertel hy. Ná matriek aan Grey-kollege in Bloemfontein, het hy ’n BA-graad aan die Potchefstroomse Universiteit (nou Noordwes-Universiteit) behaal.

Daarna volg ’n meestersgraad in loso e aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in Port Elizabeth. Venter is ’n wêreldburger wat al klas gegee het in Kioto, in Japan, en in Nederland gewoon het voor hy uiteindelik na Australië verhuis het. Sy bundel kortverhale, Witblitz, het in 1986 verskyn, maar dit was eintlik met Foxtrot van die vleiseters in 1993 (met vertalings in Nederlands en Duits) en die ikoniese Ek stamel, ek sterwe in 1996 (in Engels en Nederlands vertaal), dat die wêreld regop gesit het oor die nuwe stem in die Afrikaanse letterkunde. Later sou vele ander literêre hoogtepunte volg, soos Begeerte (2003), Horrelpoot (2006), Santa Gamka (2009) en Wolf wolf (2013). ’n Hoogtepunt in sy loopbaan, vertel hy, was ’n internasionale kontrak met Scribe (Londen en Melbourne), wat lei tot oorsese publikasies van Wolf. Wolf en Trencherman (die vertaling van Horrelpoot). Hy het hierna danksy wye mediadekking die wêreldverhoog betree.

Venter keer so gereeld as wat hy kan, terug na Suid-Afrika. Tydens hierdie besoeke het hy selfs van sy romans hier geskryf. Sy ma leef nog. “As sy op ’n kuier lostrek met ‘Ag, daai ou dokter op Venterstad was ’n regte ou pêredokter’, dan weet ek sy is nog my direkte, ongeknipte naelstring met my Moedertaal en Moederland. Die Colombiaanse skrywer Gabriel Gárcia Márquez het al gesê al sy stories, en die manier van vertel, kom eintlik maar van sy ma af. Ek hoor my ma se stem in baie van myne.”

Al is hy al hoe lank in Australië, bly hy verlang na die Groot Karoo, na sy byna “moedswillige stiltes. Die blas kleure van die drooggrond, die bossiename. Al kan ’n stuk grond nie met jou praat soos ’n mens dit kan doen nie, identi seer ek tog met die Karoo. Die bloedbloekoms en die spookbloekoms. Die swart kaketoes met hul rooi kuiwe, bedreigde koalas – alles bitterlik en ontroerend hierso (in Australië), maar dit is nie (of nog nie) deel van my bloedgroep nie.”

Hy maak tyd vir ontspanning. “Hier is goedkoop vlugte na Bali of Tokio en as ons genoeg geld het, reis ons daarheen.
Ons gaan ook graag strand of bos toe met Twiggy, ons karwats-windhond, en Augie, ons kelpie.

Ek maak altyd aantekeninge, oral en oor alles, in joernale – iewers gaan ek die stof nodig kry. Of ek dokumenteer met foto’s.” Twee maal per week oefen hy met ’n breier in die gimnasium. “Baie werk met die bobene. Hy sê dis ons grootste spier en soos jy ouer word, die belangrikste vir die toevloei van die al minder wordende testosteroon …” “Shym man.” *Tafelberg, R260

By | 2017-07-31T21:03:19+00:00 July 16th, 2017|Boeke|