Die Suid-Afrikaanse Akademie-bekronings vir 2017

Daar is nie nog pryse, toekennings of bekronings in die Afrikaanse letterkunde wat soveel prestigewaarde dra as dié van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nie. Die pryse word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie. Ná keuse van die bekroondes word die pryse onderskeidelik in Stellenbosch en Pretoria oorhandig. Gerard Scholtz, boekeredakteur van DEKAT, het die volgende saamgestel.


HERTZOGPRYS VIR POëSIE: mede-wete deur Antjie Krog

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl. J.B.M. Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde.

Helize van Vuuren:

Hoe ook al, die hele Krog-projek of proses waarvan mede-wete neerslag is (ook om die léser as ander daarby te betrek en “mede-wete” van die moeisame digterlike weg op pad na die ander te illustreer) staan in die teken van ’n vernuwing van ou digterlike praktyke, en onvrede met die bekende Krog-inslag, styl en idiolek in haar vorige bundels. Die kontoere is wel nog herkenbaar (familie, kleinkinders, vroulike liggaam wat verweer, intense politieke betrokkenheid), maar die vorm en inhoud staan in die teken van grootskaalse poëtiese eksperimentering.

Daar is skitterende en besonder treffende gedigte soos “mirakel” (oor die droom van die nuwe Suid-Afrika wat in 1994 gerealiseer is teen alle verwagting in), “moniaal”, “binnedwang”, “kerssonnet” (waarin die digter fokus op die argaïese woorde “Vredevors” en “Wonderbaar”, in ’n smagting na geloof van ’n nie-gelowige, of miskien eerder na die gekoesterde verlede waarin hierdie rituele wel bestaan het?):

kerssonnet
noudat ons ontdroomdes en ontruimdes ons
daarvangekomdes met ontluisterde skedelskottels en vraagdeurskote oë aan niks meer kan glo nie
verlang ek hier in die oorkrakende hitte van Desember
na die takkie wat eens kon spruit uit die stomp van Isai
na Betlehem Efrata klein onder die geslagte van Juda
na die stilte van ’n sterrenagveld met die gul vererige
geluid van engele nog melkig van God se behang en skaapwagters in die dorbaarde van patriarge want in
die diep onweersgroen van Desember smag ek na ’n ruspunt
en die woord Wonderbaar ’n krip en eseltjie selfs en
vingerpunte wat ontroerd Vredevors tussen linte vind maar
geen vlerke stut meer. ek kleef die blinkblaar aarde en die maan die sterre en die byl-gebenedyde geluid van afskeid en sterfte aan.

Mede-wete is vir die ernstiger poësie-liefhebber ’n bundel wat saam met Kaar van Marlene van Niekerk en Breytenbach se vyf-en-veertig skemeraandsange tot absolute hoogtepunte van die afgelope tyd.

Dat die “sinkshack” van Afrikaans as marginale taal nog sulke dig- bundels oplewer en oor sulke digters beskik, is merkwaardig, en ja, kan ’n mens net op Krog se satiriese vraag antwoord, ons is “wragtig nog hier”, veral noudat die “blikdeur” weer ’n slag oopgeruk is!

*Helize van Vuuren is besondere hoogleraar (“distinguished professor”) aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth, Oos-Kaap.


HIEMSTRAPRYS VIR NIEFIKSIE: Donker Stroom deur Carel van der Merwe

Die toekenning van die prys word drie jaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike nie ksie werk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vak- spesialis nie.

Frederik de Jager:

Mens vra jou twee verwante vrae oor Eugène Nielen Marais af: Wat is dit aan hom wat so enigmaties is, en hoe het hy so ’n ikoonstatus in die Afrikaanse, en in mindere mate in die Engelse, geesteswêreld gekry?

Hoewel hierdie vrae nie aan die wortel staan van Carel van der Merwe se allemintige nuwe boek oor Marais nie, of nie volledig nie, gee hy tog ’n antwoord daarop terwyl hy terselfdertyd die misterie verdiep. Oor meer as 400 bladsye van nougesette ondersoek weerstaan Marais steeds denisie. Ná Van der Merwe se boek kan daar nie meer veel wegkruipplek oorbly vir halwe waarhede en volle leuens, vir wensdenkery en onvol- doende navorsing nie. Nie oor Marais se liefdeslewe wat Rousseau aan bespiegeling oorgee en Friedel Hansen heeltemal aan die bisarre uitlewer nie.

Nie oor Marais die volksheld wat in groot mate ’n skepping van Preller is nie. Nie oor enige tydperk in Marais se lewe, soos die jare in Londen, waaroor nuwe inligting vir Rousseau onvoorstelbaar is nie. Sy deeglikheid en sy vermoë om feite te orden en interpreteer plaas hom in ’n ander klas. Die groot verlange staan onverminderd as ikoniese boek oor ’n ikoniese guur. Wat nou verander het, is dat jy nie Rousseau sonder Van der Merwe kan lees nie. Dit is ’n manji eke stuk werk.

*Frederik de Jager was taalonderwyser, uitgewer en redakteur, ook keurder en beoordelaar van onder meer die M-Net Literêre Toekenning en die kykNET-Rapport Boekpryse.


EUGèNE MARAISPRYS VIR DRAMA: Kristalvlakte deur Amy Jephta

Die prys word toegeken vir ‘n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ‘n persoon toegeken word. Boeke wat in 2016 verskyn het, het in aanmerking gekom.

Temple Hauptfleisch:

Kristalvlakte het sy ontstaan in die Suidoosterfees se teksontwikkel- lingsprogram, in 2015 in die lewe geroep ter nagedagtenis aan Jakes Gerwel, wat tydens ’n gesprek met Koos Bekker die gedagte geopper het om Bertolt Brecht se Mutter Courage na die Kaapse Vlakte te verplaas. Die werksessies van die skryfprojek is gelei deur Tertius Kapp, wat ook die voorwoord tot hierdie publikasie geskryf het en agtergrond oor Brecht, die teks en die projek verskaf. Kristalvlakte is vir die eerste keer by die Suidoosterfees van 2016.

Kristalvlakte gaan oor ’n “oorlog” wat hom afspeel op “slagvelde” in en om die huise en strate van die Vlakte, ’n ruimte waarin mense soos Priscilla nie net moet leef nie, maar ook moet oorleef en hulle bestaan moet maak – in haar geval om te teer op die behoeftes wat die omstandighede self skep. In hierdie konteks is die personasie “Priscilla” beide ’n nuutskepping, maar ook ’n voortsetting van Brecht se Courage: Die lewensvertrapte, dog onoorwonne vrou wat steeds daagliks spook om oorlewing.

In ’n sin is Jephta se teks ’n soort Brechtiaanse vertolking van Brecht se oorspronklike polemiese werk, wat mens tot nadenke en debat stem. Nes Brecht, stroop en vernou Jephta die konteks deur dit totaal los te maak van die groter Suid-Afrikaanse sosiaal politieke en ekonomiese milieu (al is dit natuurlik implisiet aanwesig en toeganklik vir die ingeligte leser). Kristalvlakte is ’n knap en opvoerbare verwerking van ’n klassieke teks deur ’n opwindende dramaturg, ’n werk wat nie net ’n komplekse plaaslike krisis belig nie, maar as teks en in hierdie vorm sy plek met gemak inneem in die kanon van Suid-Afrikaanse toneelwerke.

*Temple Hauptfleisch is ’n sosiolinguis, teaternavorser en dramaturg en emeritus professor aan die Universiteit Stellenbosch se drama- departement.


EUGèNE MARAISPRYS VIR POËSIE: Fotostaatmasjien deur Bibi Slippers

Die prys word toegeken vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ’n persoon toegeken word. Boeke wat in 2016 verskyn het, het in aanmerking gekom.

Jaco Barnard-Naudé:

In Bibi Slippers se debuutbundel, Fotostaatmasjien word die veelvuldige betekenisse van die fotostaat – sowel as die meganika en tegniek waardeur fototstate aan die lig kom en in die geskiedenis aan die lig gekom het – breedvoerig verken. Die indrukwekkende estetika van die bundel ewenaar die inhoud.

Die fotostaat en fotostaatmakery staan dus prominent as die sentrale tematiek, metaforiese kompleks en vormgewing in die bundel. In hierdie verband sluit Slippers haar aan by die lang, oorbekende epistemologie in die geskiedenis van die digkuns waarin poësie verstaan word as mimesis of nabootsing. Die oorsprong van hierdie beskouing van die digkuns is natuurlik Plato se Republiek, waarin gedigte sonder meer beskou word as swak namaaksels van die werklikheid, omdat dit as’t ware twee maal van die realiteit en die egte ding verwyder is.

Hier het ons die digkuns van ’n fyn waarnemer en optekenaar van ons wonderbaarlike, dikwels skrikwekkende, eietydse menslike toestand op ’n planeet wat ons met soveel ander, menslik en dierlik, deel. ’n Mens kan Slippers se poësie slegs deur ’n beroep op meervoude beskryf: sy is ’n natuurdigter met ’n diep ingesteldheid en respek vir die nie- antropomor ese ander (gedigte oor diere en ander skepsels gedy); ’n postmodernistiese digter (die gedig as dekonstruksie/ontrafeling en as parodie en pastiche is volop); ’n beelddigter (van Lucien Freud se windhond en David Tieties se donkie); ’n popdigter beslis.

Maar by uitstek is Bibi Slippers ’n digter van medemenslikheid. Die beste versreël waaraan ek kan dink om hierdie uitsonderlike nuwe stem in ons digkuns te fotostateer, is uit Walt Whitman se “Song of Myself”: “I am large … I contain multitudes.”

*Jaco Barnard-Naudé is professor in regs loso e aan die Universiteit van Kaapstad en erenavorsingsgenoot aan die Instituut vir Geestes- wetenskappe, Birkbeck College, Universiteit van Londen.


SA AKADEMIEPRYS VIR VERTAALDE WERK: Daniel Hugo se vertaling van Oorlog en terpentyn deur Stefan Hertmans

Die prys word toegeken vir vertaling in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal. By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne sy eie taal se letterkunde geniet en op die juistheid en algemene geslaagdheid van die vertaling. Die prys word toegeken met inbegrip van Daniel Hugo
se vorige vertaalde werke.

Marike van der Watt:

Kort voor sy dood oorhandig Stefan Hertmans se oupa, Urbain Martien – ’n vergete oorlogsheld uit die Eerste Wêreldoorlog – twee skryfboeke met sy memoires aan hom. Meer as 30 jaar gaan verby voordat Hertmans die boeke begin bestudeer en die waarde daarvan besef. Dit word ’n ontdekkingsreis na die verlede, wat nie net die verskrikking van die loopgrawe oopspit nie, maar ook op hartroerende wyse die verbintenis tussen generasies uitbeeld.

Oorlog en terpentyn is die eerste werk van die Vlaamse digter/skrywer Stefan Hertmans wat in Afrikaans verskyn, maar hy het reeds meer as 25 publikasies op sy kerfstok. Hy is die wenner van verskeie literêre pryse (waaronder die Vlaamse Cultuurprijs voor de Letteren), terwyl die New York Times die Engelse vertaling,War and turpentine, as een van die top 10 boeke van 2016 aangewys het. Danksy Protea Boekhuis se volgehoue poging om ons kultuurskat te verryk, kan ook Afrikaanse lesers hierdie werk geniet (vertaal deur Daniel Hugo) sonder die struikelblokke wat ons daarvan weerhou om skrywers uit die Lae Lande te ontdek.

*Marike van der Watt is deeltydse dosent aan die US Departement Afrikaans en Nederlands en is tans besig met haar PhD in vertaling, met Nederlandse vertalings van Afrikaanse literatuur as onderwerp.


EUGèNE MARAISPRYS VIR PROSA: Wonderboom deur Lien Botha

Die prys word toegeken vir ‘n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ‘n persoon toegeken word. Boeke wat in 2015 verskyn het, het in aanmerking gekom.

Henning Snyman:

Ook in Wonderboom beweeg Magriet Vos terug in haar herkoms tot by die begin, klim sy in ‘n land wat besig is om te verval, en onderneem ‘n reis, eerder ‘n tog, om haarself en haar begin te verken. Sy reis deur verskeie wêrelde – in hierdie land, in ander lande, uiteindelik tot by die begin daar in Wonderboom.

Die struktuur van haar omvattende reis suggereer outobiografiese elemente, gewoon biografiese elemente en ‘n soektog na die bekende. Die pad is van Bettysbaai en Atlantis, deur die Karoo tot by Beaufort-Wes, daarna Kimberley en Bloemhof, en dan tot in Johannesburg en Pretoria tot by Wonderboom.

Die roman handel oor verval, oor die soeke na wortels, en oor ontnugtering. Dit bevat heerlike waansinnigheid, maar is goed gestruktureer en vertel ‘n tegelyk ontstellende, weemoedige verhaal, asook ‘n brutale verhaal van die primordiale en chaos in die menslike psige.

Maar die wrede humor en die aardsheid van die vertelling is deurgaans ‘n reddingsboei vir skrywer en leser. In die geheel ‘n merkwaardige toevoeging tot ons opbloeiende romanliteratuur in Afrikaans.

*Prof. Henning Snyman (1938 – 2017)
Verwerking van bogenoemde materiaal is in samewerking met LitNet en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns saamgestel.

GESKRYF DEUR
Gerard het ‘n paar liefdes in sy lewe. Reis, boeke, skryf en sy vrou Anuta. Elke jaar reis hulle vir drie maande op hulle geliefde skoeters, Silwer en Blou in Europa. En dít is die stories wat Gerard die graagste vertel en waaroor hy blog. Die bome wat oor hulle pad val, die ontberings, maar ook die verwondering. Gerard is DEKAT se boekeredakteur en ook die Kaapse aanlyn-vervaardiger en aanbieder van DEKATv.
By | 2017-07-31T23:18:15+00:00 July 11th, 2017|Boeke|