Die kos op Armeniërs se tafels

ARTIKEL: Lynn Oberhozer
FOTO’S: Obie Oberholzer

Armenië is ’n arm land, maar met ’n vrygewige gees waar jy jouself kan help aan die heerlike moerbeie, appelkose en kersies wat langs die paaie groei. Die mense is gasvry en die kos vars, eenvoudig en oorvloedig.

Om in die klein, rook verdonkerde bakkery in te loop, was soos om terug in tyd te loop. Die lae, rowwe plafon en steenmure is Middeleeus. Die hitte van die tonier-oond en die reuk van die lavash-platbrood het die hele meel omgeefde ruimte gevul. Die lavash is papierdun, en word steeds volgens die tradisionele manier teen die kante van die ronde oond gebak wat verhit word deur ’n vuur wat op die oondvloer gemaak word. Dié brood vorm die basis van die meeste kos en word met elke maaltyd bedien. Baie kos kan in die brood toegedraai word om met die hand geëet te word, veral die tradisionele voorgeregte of die braaivleis.

Vir ons, wat in ’n gehuurde motor gereis het en nie altyd wou gaan aansit vir ’n maaltyd nie, was kos nooit ’n probleem nie. Die braaistalletjies naas die paaie, vrugte- en groenteverkopers (allerheerlikste tamaties en vars kruie) en klein winkeltjies wat vars kaas en jogurt, ’n soort fetakaas en natuurlik lavash om alles in toe te draai verkoop, het maaltye te alle tye ’n plesier gemaak.

Ons het in bed-en-ontbytplekke gebly met families waar dik, oosterse koffie of vars ment-tee met ’n verskeidenheid kos vir ontbyt bedien is. Die ontbyt was altyd eenvoudige suurdeeg-brood of lavash met botter, dik suurroom, tuisgemaakte moerbei-, appelkoos- of kersie-konfyt, veldblomheuning, tuisgemaakte jogurt, ander soorte koek en gekookte eier of omelet. Eienaardighede soos soet, ingemaakte okker-neute in hul groen doppe het verskyn en ook tuisgemaakte vrugtesap.

Voorgeregte is die norm waar jy ook al eet en was altyd soos ’n maaltyd op sy eie, moontlik omdat dit so heerlik was; borde slaai (tamatie en komkommer met pietersielie), vars kruie (dille, pers basilie, sprietuie, koljander, pietersielie) nie opgesny nie, net op die bord gesit, dik suurroom, verskeie kase, gerookte vleis en lavash en ook gewone suurdeegbrood. Ons het die lavash gebruik om suurroom, hope kruie en, wat ook al ons graag wou, in toe te draai. Jy moes versigtig wees om nie te veel daarvan te eet en geen plek vir die hoofgereg te los nie!

Die hoofgereg was divers, afhangende van die restaurant. In die hoë berge was daar altyd vars forel (gerooster of geposjeer) op die spyskaart. Skaapvleis is algemeen, maar op verskillende maniere berei. Jy kon ’n groot bak bleek, gekookte stukke vleis kry, wat verbasend sag en geurig was. Dun sous, afsonderlik bedien met aartappelwiggies vergesel die vleis. Biefoondgereg (ghormeh sabzi) met snyboontjies en hope sprietuie, gedroogde suurlemoen en vars kruie was heerlik. Harisam is nog ’n hoender- of biefbredie met koringkorrels. ’n Rysgereg met gedroogde appelkose en rosyntjies is ’n tradisionele bygereg. Dan kry jy gestopte groente soos eiervrug, soetrissies en murg-van-pampoentjies, gevul met spesery gemaalde vleis en / of rys. Baie wilde spinasie-agtige blare word gebruik om bredies te geur of geroerbraai met eier. Klein gemaalde vleisrolletjies in kool- of druiweblare is ook heerlik, die groete wat blykbaar vanaf Turkye, Griekeland en naburige lande kom, is soortgelyk.

Armenië is ’n bergagtige land met sneeubedekte berge tot 4 000 m hoog. Die vinnig vloeiende riviere van die berge af is vol forelle en die hoë, welige weivelde is boordensvol vars kruie waar die baie skape wei. Dis ’n plesier om deur die grasvelde in die lente te loop. In net ’n halfuur het ek 21 verskillende veldblomme getel. Die Yazidi-skaapwagters neem hul skape na die hoë dele in die lente en kamp daar tot herfs; honde, skape, bokke, beeste, vroue en kinders. Die vleis is organies so ook die groente en alles anders is eetbaar. Die plattelandse leefwyse, weg van die hoof-stad en dorpe verseker dat die meeste van die kos, wat ek boerekos sou noem, goed, gesond en natuurlik is. Dit lyk of die meeste plattelandse families ’n koei of twee het en hul eie kaas en joghurt maak. Ons het toevallig een oggend op ’n veemark afgekom en met die boere gemeng, wat hul varkies in die kattebakke van hul ou Sowjet Ladas of antieke lorries gehad het. Dié voertuie gebruik almal natuurlike gas, wat met ’n pypleiding van Rusland af kom, dus het die varkies die kattebak met gasbottels gedeel. ’n Ou cowboy te perd het die beeskudde onder beheer gehou en ’n man met ’n hond het die skape en bokke opgepas. Eende en ganse het vry rond geloop. Niemand het blykbaar omgegee dat ons oral rondgeloop het nie, Obie met sy kamera. Enigeen met ’n bietjie gebroke Engels het hul taalvaardigheid kom toets. Ons het baie pret gehad en is spesiale pryse aangebied vir die oulike pienk varkies!

Groen veldkos en knoffel word langs die pad verkoop. Die heuwels is so dig begroei met die veldkruie en -blomme dat lyk of jy hulle kan eet. Met ons aankoms bo op ’n pas, kon ek nie my oë glo toe ek uit die kar spring en emmersvol wilde aspersies en sampioene te koop sien nie. Die lente is so ’n spesiale seisoen nadat die koue sneeu alles rustend laat lê het. Naas die groen veldkos word grootliks gebruik gemaak van speserye soos komyn, paprika en brandrissies in Armeense geregte.

In die dorpe en plattelandse dorpies is daar moerbei- (rooi en wit), appelkoos- (Armenië se nasionale vrug), kersie- en okkerneutbome langs die paaie. Naas die bakke vrugte te koop, kan enigeen van die wonderlike oorvloed pluk. Die vrugte word vars geëet, konfyt van gemaak, ingelê, vars vrugtesappe van gemaak en in wodka gedistilleer. Die okkerneute word vars in koeke (paklava, soortgelyk aan Griekse baklava, maar met broskorsdeeg in plaas van filo) gebruik. Dit word ook in toutjies ingeryg en in jellie-agtige vrugtestroop gedoop, wat set om ’n dop te vorm en regtig heerlik is. Ons het ook groen, ongedopte okkerneute in ’n dun soeterige stroop gepreserveer geëet. Die kos word al vir eeue lank geëet en die resepte word deur die eeue heen oorgedra. Gedroogde, sout appelkoospitte was ’n ongewone lekkerny. Kersies en moerbeie word ook gedroog. Die kos is seisoenaal met baie daarvan wat ingelê, gedroog of gepreserveer word vir die koue wintermaande. Die meeste huise in die platteland het kelders propvol allerhande ingelegde kos. Dit was moeilik om vir sommige van die groen veldkos name te vind.

Daar is oral braaistalletjies langs die paaie in die platteland en dorpe. Geel mielies word in groot potte gekook en hoender en lams- en gemaalde vleis oor die kole gebraai op plat vleispenne met aartappels, tamaties en eiervrug. Dit word bedien toegedraai in lavash. Ons was heeltyd op die uitkyk vir rook, wat beteken het die braai was aan die gang.

Dit het ons gunstelingmaaltye geword.

Ons het die Armeniërs, wat baie min Engels buite die hoofstad praat, vriendelik en vrygewig gevind. Terwyl ons ’n vleisbraai by ’n kinderpartytjie gefotografeer het, is ons vleis van die braaivleis, toegedraai in lavash aangebied, wat ons nie kon weier nie al wou ons! Omdat ons nie misbruik van hul gasvryheid wou maak nie, het ons in die motor gaan sit en eet, maar is onmiddellik terug verwelkom in die familie se feesviering. Nadat die Sowjetunie in 1991 gedisintegreer het, het die Armeniërs hul land terug gekry, bekend as die oudste Christelik land ter wêreld. Die plattelanders het die beste gevaar omdat hulle entrepreneurs kon word en hul produkte bemark. Gedurende die Sowjetera is die mense nie toegelaat om enigiets privaat te verkoop nie, omdat daar nie ’n vrye markstelsel was nie. Baie mense het hul eie lavash-oonde gebou en hulself geleer om hul tradisionele brood te bak omdat die Sowjet bestuurde bakkerye nie aan hul standaarde voldoen het nie. Hulle het selfonderhoudend geraak en gaan voort om die beste te maak uit die produkte tot hul beskikking. Ons het baie van die eenvoudige kos en varsheid van alles gehou, die oorvloed van suiwelprodukte, die ment- en tiemietee en die klein, dik koffies, bedien met okkerneute, gedroogde appelkose, vars kersies, sjokolade of koek. Dié is ’n arm land met ’n yslike vrygewige gees. Die plattelandse leefwyse is baie anders as om in Yerevan, die hoofstad, te leef wat ’n klein, moderne “Europese” stad is. Dit was vir ons heerlik om uit die stad te wees met die vryheid wat die klein paaie en die eenvoudige lewe van die platteland bied.

By | 2017-06-29T23:31:45+00:00 June 29th, 2017|Reis|