Die Guggenheimmuseum in Bilbao – ‘n droom in titanium

deur Gerard Scholtz

(Rol af vir foto’s)

In my jong en ernstige lewe koop ek‘n Lotte Lenya langspeelplaat waar sy Bertold Brecht liedere sing. Deur Kurt Weill gekomponeer. Een van die snitte wat elke dag deur ons huis gedawer het was die Bilboa Song, uit The Three Penny Opera.

Bill’s beer hall in Bilbao, Bilbao, Bilbao,
Was the most fantastic place I’ve ever known.
For just a dollar you’d get all you wanted,
All you wanted, all you wanted
Of whatever kind of joy you called your own.

En ek het altyd gehunker om die stad te sien in kabaretverband. Vuil. Fabrieke. Verlooptes. Maar ook dat jy vir net ‘n paar dollars alle vreugdes wat jy wil hê, daar kan kry.

Intussen het ek ‘n aanhanger van argitek Frank Gehry geword met sy oënskynlike chaotiese werke met elemente van dekonstruksie. Maar in my oë estetika tot ‘n hoogtepunt voer.

Na die bou van die Gehry se Guggenheim Kunsmuseum, was Bilbao nog altyd hoog op my emmerskoplys. Daar was ‘n vorige poging om dit te besoek, maar toe raak ons verlief op die Pirennieë en kom toe nooi daar uit nie. Vir hierdie reis staan dit toe bo aan die lys. Ons bespreek blindelings ‘n oorslaapplek op airbnb en groot is ons verbasing toe ons die gordyne ooptrek… Daar lê die museum klipgooi onder ons aan die oorkant van die rivier.

Daar waar eers ‘n vuil hawe was, agterstrate, ‘n ghetto, is met Gehry se ontwerp ‘n beeldhouwerk geskep wat sensitief teenoor die omgewing staan en het dit die industriële verlede agtergelaat. Asof dit organies vanuit die rivier gegroei het. Nee, asof dit nog altyd daar was.

Ons stap vroegaand bergaf. En daar is sy. Dit word ‘n droomaand met ‘n halfmaan wat oor die titaniumskubbe, klip-, staal- en glasskip in volle vaart, hang. Nee, nie ‘n seilskip nie. Nie ‘n vlagskip nie. ‘n Vis. Want dit was Gehry se inspirasie. Sy herinneringe om saam met sy ma vismark toe te gaan, vis te koop, en dan is dit tuis in die bad gesit.
Ons benader die gebou soos ‘n altaar. Met eerbied. In aanbidding. En eers lank aan die oorkant van die Nerviónrivier gaan sit om die volle kompleks met wandelpaaie, bome en weerkaatsings in te neem. Die rivier het ‘n integrale deel van die ontwerp geword. Ook die brug, die beeldhouwerke, die stoom wat elke uur oor water met ‘n ondergrondse geraas blaas, en die vyf vlamfonteine wat elke tien minute sissend lang vuurtonge uitblaas wat teen die geboue en water weerkaats.
Die donker het ons ingehaal. Maar ons kon ons nie wegskeur nie. Uit elke hoek is daar ‘n ander konfigurasie, ‘n ander kaatsing. Ander titaniumkleure. Ons het daardie aand eers verwonderd om 11:00 by die huis gekom. Kon steeds nie glo dat ons daar was nie.
Die volgende oggend is ons weer museum toe. Eers oor die brûe gestap en die gebou vanuit hoogtes bekyk. Kaartjies gekoop en toe die gebou ingestap. Dan staan jy eers stil, kyk op, sien die atrium waardeur lig val, kyk jou vas in staal, glas, eindelose ruimtes en kurwes. Dit neem jou lank om tot verhaal te kom en jou eie ruimte binne daardie ruimte te vind.
Een van die ruimtes waarin jy jouself verloor is die groot saal met Richard Serra se Matter of time – ‘n reeks massiewe yster kurwes. Jy stap deur die kunswerke, raak verlore in ruimtes, draaie, patinas, teksture en kleure. Die besef dat erosie ‘n rol speel is oorweldigend. Ook jou eie lewe, en dat niks vir ewig kan duur nie. Eers loop jy kronologies en verder en dieper deur die beeeldhouwerk, maar dan moet jy omdraai en ander roetes volg. Dit is wanneer jy met ‘n metafisiese reis begin. Reis jy deur jou herinneringe, en weet dat dít ook dit sal vergaan. Tot ‘n einde sal kom.
Ek kan uitbrei en uitbrei en my woorde sal miskien eendag opraak.
Daar was ook die Meesterstukke van die Guggenheim Museum wat oorweldigend was. Dit het vir my kans gegee om voor groot en bekende werke stil te staan en stil te word. Daar is Robert Motherwell se hoogs ekspressiewe werk oor die tragedies van die Spaanse Burgeroorlog – een groot doek in swart met ‘n klein wit ruimte – en dan in jukstaposisie Yves Klein se Large Blue Anthropometry, teenoor Andy Warhol se ikoniese sifdrukke van Marilyn Monroe. Verder een van my gunstelinge, Gerhard Richter – ‘n asof uit fokus fotoskildery. Anselm Kiefer se reuse Renowned order of the night vang jou onverhoeds, net soos Mark Rothko se ongetitelde rooi en geel vlakke. En vele meer.
Ons het ure en ure rondgewaal, na ander uitstallings gekyk, maar die heel tyd onder die indruk van die binneruimtes om jou gebly, en die wete dat die gebou self ‘n kunswerk is.
Ons is weer vroegaand terug. Die gebou in ‘n heel ander bui. Donker. Dan sien jy ander vlakke, ander kleure teen die aandwolke. Ons draal en draal. Brug op. Brug af. Tappe op. Trappe af. Stap om die hele kompleks. Sien hoe die son sak oor die rivier. Die vis. Die triomfantelike seilskip. En dis net jou belwenis wat helder brand. Die volgende oggend vroeg ry ons met Silwer en Blou oor die brug en kyk vir oulaas na die gebou wat weer in ‘n ander bui is. Blink en helder in die oggendson. En ek sing:

Bills Ballhaus in Bilbao
war das schönste auf dem ganzen Kontinent.
Dort gab’s für einen Dollar Krach und Wonne,
und was die Welt ihr Eigen nennt.
Aber wenn Sie da hereingekommen wären,
ich weiß nicht, ob Ihnen so was grad gefällt.
Ach!

 

 

 

By | 2018-05-29T11:51:50+00:00 May 28th, 2018|Argitektuur, Kultuur, Kuns, Reis, Uncategorized|