563 Views |  Like

Leer Alta Cloete ken

Alta Cloete is die skrywer van omtrent vyftig gepubliseerde tydskrifverhale, twaalf romanses en sewe liefdesromans, laasgenoemde alombekend as die Geur- en Seisoenreekse. Sy skryf genrefiksie omdat dit is wat sy self die graagste lees en omdat sy bevoorreg voel om deel van die oplewing in Afrikaanse ontspanningsfiksie te wees. Haar karakters is egter nie volmaakte poppe nie, maar gewone mense met gewone foute, vrese en vreugdes en sterk sowel as swak punte.
Die kwessies wat in haar boeke aangespreek word, is relevant vir die moderne leser, maar sy poog omdie aanbieding altyd lig en toeganklik te hou. Hoewel ontspanningsfiksie gewoonlik op ʼn hoopvolle noot eindig, doen sy moeite om nie die indruk te skep alles gaan noodwendig volmaak wees nie. Haar karakters werk altyd deur hulle kwessies en kom sterker en meer volwasse mense anderkant uit. Haar stories word egter nooit ʼn preek nie en haar doel bly steeds om in die eerste instansie ʼn lekker storie te vertel waarmee die leser kan identifiseer. Sy het as bibliotekaresse en later as preprimêre onderwyseres en skoolbibliotekaresse intens bewus geraak van die positiewe rol wat lees en spesifiek lees in Afrikaans in die lewe van mense van alle opvoedingspeile en alle ouderdomme kan speel. Haar vrye tyd word dus hoofsaaklik gebruik vir die bevordering van die Afrikaanse boek deur haar groep. Kom ons lees weer Afrikaans! op Facebook en haar blogs (www.altacloete.wordpress.com en http://altacloete.bookslive.co.za/blog/).
Sy skryf ook van tyd tot tyd Afrikaanse boekbesprekings vir die Nederlandse publikasie Maandblad Zuid-Afrika se Lekkerleesblog. Sy poog om inligting oor depressie te versprei deur haar Facebook-blad https://www.facebook.com/InspirasieVirDepressievegters
en die boek Beveg depressie en leef voluit
wat sy self uitgegee het en op Amazon te koop is.
Facebooktwitter