1784 Views |  Like

‘n Uittreksel uit Debbie Loots se “Split”

Split (n.)
A tear, crack, or fissure in something, especially down the middle or along the grain.
1
Party Saterdae, as die wind nie oor die mynhoop opk
om en sand in die oord se swembad waai nie, dan gaan swem Vera.
Die oord is net buite Randfontein en het laas jaar nuwe eienaars
gekry, ’n man en vrou van Cradock af. Hulle het nie geweet
die mynhoop is so naby die swembad nie. Die dorp se mense het
gespot en gesê toe die myn jare terug bankrot gespeel het, het die
eienaars in plaas van om die gat toe te gooi ’n swembad gebou, en
toe die plek verkoop as ’n oord.
Vera dink die nuwe eienaars was dom om nie snuf in
die neuste gekry het oor die naam alleen nie, Dunes Holiday Resort. Die matrieks het elke jaar vir die snaaksigheid die Dunes op die bord langs die pad met spuitverf verander na Dust. En party jare het die munisipaliteit dit nie kom skoonmaak nie, en so het die dorp se mense gewoond geraak om te praat van die Dust Holiday Resort.
En die kinders van Dusty’s.
Die Cradock-eienaars het plante bo-op en rondom die hoop
geplant om die sand uit die swembad te probeer hou, selfs ou
visnette van Durban af opgekoop, die goed met toue aanmekaargewerk en oor die hoop probeer trek. Maar dit het nie veel gehelp nie. Mens kon nooit swem as die wind waai nie, maak nie saak hoe warm dit was nie. Dis die Saterdag voor die einde van die maand. Vera was dorp toe om geld te gaan trek vir haar board en lodging by haar mahulle,
en sy het amper nie daarna gaan swem nie. Dis laatoggend
en baie warm. In die son lê en tan was nog nooit haar ding nie,
sy’s blas genoeg. Maar sy is klaar met die bietjie leerwerk vir haar
verpleegkursus en nie lus om by die huis rond te lê
nie.
Haar broer Ivan skiet duiwe in die tuin halfdood met haar pa
se windbuks en sy kan die verskillende klanke en reuke van die
slagting nie meer vat nie – dit terwyl haar ma, wat in die kombuis
besig is, soos gewoonlik maak asof sy niks sien of hoor nie.
Dis toe dat Vera ’n lift vat oord toe saam met tannie Martie
van langsaan wat op pad Krugersdorp toe is om by haar dogter
te gaan braai.
“Jy moet oppas vir die manne by die swembad, hoor jy, Vera,”
sê tannie Martie toe hulle ry. Sy kyk haar op en af. Vera het haar
minirokkie aan wat sy laas maand by Uniewinkels op rekening
gekoop het, die een wat sy net dra as haar pa werk toe is.
Vera kyk by die groen Datsun se vuil venster uit. Sy weet waarvan
tannie Martie praat. Die Krugersdorp- en Fochville-ouens
wat altyd skelm bier drink by die oord en ogies maak vir die
Randfontein-meisies, of enige ander mooi, nuwe gesiggies. En
dis veral die klomp wie se meisies swanger is en wat een van die
dae moet trou wat op Saterdae soos vlieë om die swembad uitsak.
“Ek’s nie dom nie, tannie Martie,” sê sy, al voel sy so. “Ek ken
hulle soort. Ek het ander planne vir my lewe.” “O. Nogaals, nè?” sê tannie Martie. Vera weet van haar dogter

 

Sara wat laas jaar met ’n appey op die myn moes trou. “En watse planne nogaals, as ek mag vra?” Vera probeer haar rok oor haar knieë trek. Die helderpers blommetjies lyk skielik vir haar goedkoop. “Ek wil by Joburg General gaan verpleeg, tannie,” sê sy sag. “As ek volgende jaar klaar is met my kursus op die dorp.” “Nogaals, nè?” sê tannie Martie. Sy knik haar kop stadig, so asof sy iets weet wat Vera nie weet nie.

11
Hulle draai regs oor die brug, uit op die ou pad tussen Randfontein en Krugersdorp. Dis nou nie meer ver oord toe nie.
“En waar gaan jy bly in Johannesburg, as ek mag vra?”
Vera kyk vir haar. Vir haar geteasde rooi hare en haar rooi wange.
Tannie Martie dra altyd oranje of geel crimplene-rokke wat
Vera se ma sê nie by haar vel pas nie. Dit laat haar nog rooier
lyk as wat sy alreeds is. Sy’t ’n vetrolletjie om haar maag en haar
boarms met hulle puisies dril as sy ratte verander of oor ’n slegte
deel van die pad ry.
“By my ma se suster, Brenda, in Triomf, tannie,” sê
Vera. “Net totdat ek op my eie voete kan staan en blyplek naby
die hospitaal kan kry. As ek eers een-en-twintig is.”
Tannie Martie frons. “Triomf is mos daar waar die polisie die
swartes en kleurlinge se huise platgeslaan het, nè?”
“My ma sê so, tannie.”
“Is daai vrou nie skeef nie? Brenda? Jou pa kan haar nie vat nie,
soos ek dit onthou.”
“Ek weet nie, tannie.”
“En wat het jou pa nogaals te sê, oor al jou grand
planne nou?” vra sy toe hulle uiteindelik voor die oord se bord
langs die hoofpad stop. Sy kyk vir Vera.
“Niks nie, tannie,” sê sy en klim uit. “Baai, tannie.”
“Ek kom so vyfuur se kant weer hier verby, Vera. Ek
sal jou ’n lift gee as jy voor die bord wag,” roep tannie Martie agterna. “En onthou om te pasop, hoor!” skree sy toe sy wegtrek.
Behalwe vir ’n paar vreemde kinders is dit stil by die swembad. Nie een van die dorp se mooi blonde meisies is daar nie, die
klomp wat by Foschini en Edgars werk en altyd daar aankom in hulle bikini’s wat hulle op appro huis toe vat vir die naweek en Maandag weer terughang in die winkel. Vera weet, want hulle
swem nooit. Hulle lê net en smeer sonneblomolie oor hulle lywe,
druk tissues reg rondom die rande van die costumes in en tan dan
die hele dag. Hulle maak altyd asof hulle haar nie sien nie.
12
Vera dink hulle is jaloers op haar. Nie omdat sy mooi is nie, want
sy is nie, hoewel sy mooi gebou is – haar ma sê so, en sy gee nie
eintlik komplimente nie – maar omdat sy swem terwyl hulle hulle
gemakeupde gesigte met tissues moet druk-druk om die sweet
te probeer uithou uit hulle oë, dik van die eyeliner en mascara.
Hulle is jaloers omdat sy induik, lengtes swem, haar lang swart
hare skud dat die druppels oraloor spat as sy uitklim, haar gesig
sonder make-up hard afdroog, en dan in die warm waterplasse
op die leiklip rondom die swembad gaan lê sonder om
te worry dat haar costume iets gaan oorkom. En sy het self ’n mooi een, ’n swart-en-wit bikini met rooi aarbeitjies op wat sy met haar eerste double-pay gekoop het toe die hospitaal al die leer lingverpleegsters eenkeer vir ’n noodgeval ingeroep het. ’n Massiewe sinkgat het in ’n agterpad tussen Randfontein en Krugersdorp geval en ’n paar mense was dood en ’n klomp beseer. Die helfte van ’n huis langs die pad was weg en twee karre was binne-in. Sy het nog nooit so iets gesien nie. Dit was vir ’n week daarna in die koerant. Vera skud haar handdoek oor die gras oop en duik in. Sy swem tot sy moeg raak, hang dan oor die rand terwyl sy met haar hande plas-plas in die lou water voor haar. Net toe sy weer wil swem, sien sy hom. Hy lê reg langs haar handdoek, haar uitgewaste blou handdoek, op sy goudgele wat helder afsteek teen die groen van die gras: op sy elmboë lê hy en kyk rond met sy donkerbrille voor sy oë. Sy sien dadelik hy is nie van die dorp af nie, ook nie van Westonaria of Fochville nie. Hy is maer en seningrig en baie witter as die ander lot ouens wat ná skool lekker vet geraak
het van baie braaivleis eet en nie meer rugby speel nie. En wat
almal gitswart gebrand is van heelnaweek se rondlê langs die swembad.
Toe doen sy iets wat sy nog nooit in haar lewe gedo
en het of wou doen nie, nie eers met Hendrik vir wie sy laas
jaar afgesê het nie. Sy doen iets wat haar laat skrik vir haars
elf. Sy tjaaf hom. Sommer so asof dit ’n alledaagse ding is.
13
Sy wag eers om sy oog te vang, trek haarself stadig
uit die swembad, gaan staan op die rand en trippel so asof die leiklip
haar voete brand terwyl sy die water in haar hare van bo tot onder
op die gras langsaan uitdruk. En toe swaai sy haar nat slierte heen en weer en kyk reguit vir hom, in sy blou oë in vas. Sy brille
is af en hy glimlag skeef vir haar. Sy loop nader en gaan lê langs
hom op haar handdoek. Haar oë is toe, maar sy voel hy kyk vir
haar en sy kan nie help vir die glimlag om haar mond nie. Hy fluister skielik iets in haar oor, maar sy kan nie mooi hoor nie, sy voel net die hoendervleis oor haar lyf kom van sy warm asem.
“Ek’s Willem,” blaas hy saggies teen haar wang, “en jy’s mooier as mooi.” Sy sit regop, trek haar bene teen haar lyf vas, en kyk vir hom. “Jy’s nie van hier af nie, nè?” “Nee. Ek’s gestuur,” sê hy ernstig en leun weer nader. Sy gesig is ’n paar sentimeters van hare af. “Al die pad van die Noord-Transvaal af, om jou te kom haal en saam met my terug te vat Pietersburg toe.” Sy weet hy speel met haar, maar sy is nie goed met grappies nie en sy voel simpel toe sy dankie sê, maar sy weet nie wat anders om te sê nie, wat om te maak met haar hart wat skielik so in haar bors te kere gaan nie, hoe om haar stem terug te kry en weer normaal te wees nie.
“Kom ons gaan swem,” sê hy en trek haar regop. “Jy laat dit so
lekker lyk.” Sy weet sy’s in die moeilikheid toe hy haar later agter by die toilette begin soen. Hy het gesê sy moet hom wys waar dit is, hy weet nie, dis sy eerste keer hier, en toe vang hy haar onverwags net toe hulle om ’n hoek kom waar niemand hulle kan sien nie.
Sy het nog nooit oopmond gesoen nie, Hendrik was altyd so
ordentlik, hy het haar altyd gevra of hy mag en sy het meestal nee
14
gesê. Willem het nie gevra nie, en sy het nie nee gesê nie. Al was
sy nie seker dat dit die regte ding is om te doen nie, hom terug te
soen asof sy weet hoe, en hom toe te laat om haar lyf met net die
twee stukkies lap bo en onder al hoe stywer teen hom vas te trek.
Sy skrik toe hy skielik sy hand in haar broek tussen haar bene
druk en stoot hom hard weg. “Wat maak jy?”
“Hei!” sê hy en hou sy hande op, so asof sy die een
is om voor bang te wees. “Sorry, ek weet, ek weet. Ek kon myself nie help nie. Jy’s so mooi. Ek sê jou mos.” Sy hou haar arms oor haar bors vas en loop vinnig terug na haar handdoek toe, hy agterna.
“Relax,” sê hy en probeer bybly, “ek weet jy’s nie daai soort
meisie nie. Ek weet jy het nog nooit nie.” Haar gesig raak weer rooi. Sy trek vinnig haar rok oor haar costume aan en druk haar handdoek in haar sak. Sy kyk nie vir hom nie. Hy plant sy voete wydsbeen voor haar neer, in haar pad, toe sy hek toe wil loop, en vat haar skouers styf vas. “Kyk vir my,” sê hy.
“Asseblief.” Hy’s lank, sy skaduwee val oor haar lyf. Sy kyk vir
hom. “Ek is uit my hart uit jammer, regtig. Ek was net…Ek weet
nie.” Hy skud sy kop en kyk weg. Dit lyk asof hy be
doel wat hy sê.
“Dis oukei,” sê sy en probeer glimlag. “Ek’s laat,
ek moet my lift gaan vang.” Hy dra haar sak tot by die bord langs die hoofpad. Toe tannie Martie in haar groen karretjie oor die bult kom en langs hulle aftrek, staar sy hom eers nors deur die oopgedraaide venster aan, maar sy glimlag toe hy met haar begin gesels en sy hoor sy pa-hulle boer met beeste in die Noord-Transvaal.
“Nogaals, nè?” Toe hulle wegry, sê sy vir Vera: “Daar’s nou vir jou ’n catch. So ’n man kom nie aldag oor ’n meisie se pad nie.” Sy druk haar
elmboog in Vera se sy. “Nou vir wat lyk jy so of jou tjank afgetrap is, kind? Jy kan darem jou sterre dank ek’s nie ’n paar jaar jonger nie.” Toe hy die volgende week by die hospitaal langs kom van die Klerksdorpse landbouskou af op pad terug Pietersburg toe, was sy so verras deur die mooi bos dahlias, die ander verpleegsters se geflikflooi met hom in sy netjiese broek en hemp, sy blonde kuif wat hy agtertoe gebrylcreem het, en sy blou oë wat vir niemand anders kyk nie, net vir haar, dat sy vergeet van haar gevoel die dag toe sy saam met tannie Martie van die oord af teruggery het huis toe. Die gevoel dat hy iets van haar probeer steel
het.
Uittreksel uit Split
Deur Debbie Loots
Facebooktwitter