988 Views |  Like

Hierdie is ’n uittreksel uit Deon Maas se nuwe boek, Melk die heilige koeie

 

Daar is mans wat voel dis hul plig om lesbiërs te verkrag; daar is studente wat dink dis aanvaarbaar om dronk meisies wat uitgepass het te verkrag. In 2014-2015 is altesaam 43 195 verkragtings in Suid-Afrika aangemeld. Let wel, wat aangemeld is.

Maar hierdie is nie ’n storie oor verkragting nie, hierdie is ’n storie oor hoe vroue wat kort rokkies dra dieselfde respek verdien as kloosterkoeke. En hoe mans wat oordeel oor vroue gebaseer op hul klere- of seksuele gedrag, nie die reg het om hulself mans te noem nie.

Jy, meneer, jy het twee duime. Dit beteken dat jy bo-aan die ewolusionêre leer staan. Daar is ook ’n goeie kans dat jy ’n funksionele brein het wat rede en feite kan interpreteer. Dit beteken dat jy ’n sekere verpligting teenoor jou spesie het om jou soos ’n mens te gedra.

Hierdie sosiaal aanvaarbare gedrag wat jy behoort te openbaar, sluit jou houding teenoor vroue in.

Die vrou is God se geskenk aan mans. Sonder hulle sou ons almal masturbeerders en dieremishandelaars gewees het. Nie dat dit ons keer om masturbeerders en diermishandelaars te wees nie, want mans is mos maar mans, reg?

Nee, dis nie reg nie.

Daardie vrou met die kort rokkie het dit nie vir jou aandag aangetrek nie, en selfs al het sy, is dit haar reg om dit te doen. Dit beteken nie dat sy vanoggend aangetrek het sodat jy by jou motor kan uithang en vir haar fluit nie. Dit beteken nie dat jy haar ’n slet mag noem nie, al het sy die hele Blou Bul-rugbyspan in een aand deurgedraf. Dit is wat ’n mens seksuele vryheid noem. Dit is haar reg om haar lyf te gebruik soos wat sy wil, sonder dat jy enige reg het om haar daaroor te oordeel.

Ek dink dat sy as leser van hierdie boek sal saamstem daaroor. Ek twyfel of baie wolwefluiters en slet-shamers hierdie boek sal lees. Die omslag het hulle al klaar gewaarsku dat hierdie ’n boek vir libtards en hul aangewese boeties is.

So, ek weet dat ek tot en met hier dalk heel moontlik besig is om te preek vir die gelowiges. Nie dat preek vir die gelowiges ’n swak idee is nie. Duisende dominees maak hul loopbaan daaruit elke week. Kom ons sê eerder dat ek die idee versterk. Net soos die dominees doen.

Maar nou, en dis waar die trein soms die spoor verlaat, is dit nie net mans wat hulle skuldig maak aan sulke gedrag nie.

So, kom ons gesels met jou, mevrou, oor jou houding teenoor die dorp se meisie wat haar seksuele gunste met oorgawe uitdeel.

Jy is gewoonlik die eerste een wat afkeurend daaroor praat. Jou man praat ook daaroor, maar met die hoop dat hy die volgende op die lys gaan wees. Dis eers as hy besef dat hy nie op die lys is nie, dat hy met jou gaan begin saamstem.

So, jy praat oor haar omdat jy haar gedrag afkeur. Hoe opwindend is jou sekslewe? Praat jy nie dalk oor haar omdat jy jaloers is nie? Ek wil hê jy moet mooi dink voordat jy daardie vraag beantwoord, want daar is ’n paar feite om te oorweeg. Jou eie sekslewe is nou nie eintlik meer so opwindend nie. Dis beperk vanweë jou man se vermoëns of drankgewoontes, of dalk is julle al net te lank bymekaar. Dis beperk omdat jy te bang is wat gaan gebeur as jy iets verkeerds sal doen. Beteken dit dan nie dat jy haar eerder moet bewonder nie? Dalk is sy die dapper een en jy die lafaard.

Almal het hul eie persoonlike voorkeure. Joune is om nie seks met baie mans (of vroue) te hê nie. Beteken dit dat jou besluit reg is en hare nie? Jy moet ook besluit waarop hierdie vrees gebaseer is. As dit gebaseer is op godsdiens, beteken dit mos nie dat dit noodwendig op haar van toepassing is nie.

Ons is op die punt waar vroue ander vroue te veel afkraak. Stop dit dadelik. Dit is mans se rol.

deon-maas-deur-alet-pretorius-2 deon-maas-deur-alet-pretorius-3 

Facebooktwitter