DEKAT eer Karel Schoeman

Vanjaar is die sterfjaar van Karel Schoeman. Protea Boekhuis het sy laaste twee boeke, Slot van die dag en Afskeid van Europa uitgee, terwyl SUN MeDIA Die reis inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe skryfwerk van Karel Schoeman uitgee het. Om een van Afrikaans se grootste skrywers te eer, plaas ons uittreksels uit hierdie drie boeke.

Saamgestel deur Gerard Scholtz

 

Slot van die dag

Slot van die dag het die vorm aangeneem van los gedagtes oor die ouderdom en die einde van die lewe, saam met verspreide herinnerings van ‘n algemene aard, om ‘n ryk geskakeerde beeld te verskaf van ‘n skrywerslewe van byna 80 jaar.

Wanneer ek vroeg wakker word, staan ek op om die deur vir Jemina oop te sluit, en gaan dan bed toe en slaap verder. Toe ek vanoggend my oë oopmaak, staan sy langs my bed en luister of ek nog asemhaal, aangesien ek nie gepraat of beweeg het toe sy binnekom nie. Só sou mens afskeid moet kan neem.

Wéér ‘n aanhaling, áltyd ‘n aanhaling; opnuut J.C. Bloem.

En voor altijd is dit mij bijgebleven:


Hoe zeer veel stiller dood dan slapen is …

Dog met die ouderdom weet ek nie meer of ek die volgende reëls nog met ewe veel instemming kan aanhaal nie.

Dat het een daaglijks wonder is, te leven,

En elk ontwaken een herrijzenis.

Die Lewe op sigself blý ‘n wonder. Maar die individuele bestaan van dag tot dag?

Toe ek in die herfs van 2003 op besoek in Nederland was, het ek in ‘n koerant ‘n resensie gelees van ‘n nuwe boek, Oud worden, hoe doe je dat?, en dit vir my bestel.

Die boek bestaan uit onderhoude met 34 bejaardes tussen 65 en 97 oor hul ervarings met die ouderdom. ‘Ieder beschrijft op haar of zijn manier,’ het Bart Lammers in ‘n resensie opgesom, ‘hoe om om te gaan met verlies van vaardigheden en geliefden, de winst van tijd en rust en de aandacht voor het “‘kleine”’. Het leven met ongemak en herinneringen is, ondanks alle verschillen, het onderliggende thema.’

Ek het toe pas 64 geword toe ek die boek gelees het, en hoewel ek die potensiële relevansie daarvan besef het, kon ek niks daaruit wys word nie, want dit het niks meegedeel wat ek nie reeds geweet het, selfs tóé al, of wat ek toe wóú weet nie, en ek het dit nie besonder insiggewend of selfs besonder interessant gevind nie.

Ek dink nie dat oud word iets is wat geléér of onderrig kan word nie, selfs deur middel van onderhoude met bejaardes en ander deskundiges op dié gebied: dit is ‘n natuurlike proses, nes sterwe, wat onvoorspelbare gedaantes aanneem, en vandag laat daardie boektitel my in eerste instansie dink aan ‘n meer onlangse Nederlandstalige publikasie deur René Gude, met ‘n naam wat ‘n soort eggo daarvan uitmaak, Sterven is doodeenvoudig: ieder- een kan het. Jy kan jou eie veroudering, nes jou eie sterwe, maar net so gelate moontlik afwag, en jou dan so goed doenlik aanpas by die onaangename verrassings wat dit in jóú geval bied en die besondere eise wat hieruit ontstaan.

Do not go gentle into that good night,


Old age should burn and rave at close of day;

Rage, rage against the dying of the light …

So het Dylan Thomas in ‘n heuglike aansporing gedig, maar watter sin het dit? Jy verspil jou oorblywende krag, maak die lewe nie makliker vir jouself of aangenamer vir jou onmiddellike omge- wing nie, en beroof die proses van ouer word en sterwe van die betreklike waardigheid wat dit nog besit.

Slot van die dag, Protea Boekhuis, 2017, R250

 

Lees uittreksels uit Afskeid van Europa en Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman, in die November/Desember 2017 uitgawe van DEKAT nou te koop.

By | 2017-12-12T12:23:24+00:00 December 12th, 2017|Boeke|