Boeremeisies

Lourenço Marques se rooi ligte wink vir plaasmeisies
Geskryf deur Carolien Greyling

Die rooiligdistrik van Rua Araújo in Mosambiek se destydse hoofstad Lourenço Marques het werk en ’n onafhanklike lewe vir Suid-Afrikaanse vroue aan die begin van die 20ste eeu verskaf.

Die Rua Araújo, plaaslik bekend as Whisky Street, met ’n mengsel van “Latynse ongeërgdheid en kragdadige optrede”.
Rum Row of Street of Troubles is so oud so Maputo self. In die laat 1700’s is Lourenço Marques rondom ’n Portugese fort gebou en die Rua Araújo is toe uitgelê. Sedertdien het die name verander, en die mense het gekom en gegaan, maar die straat van sorge het gebly, en verbind Maputo se hawe met die hoof stasie, ’n pad vir reisigers dwars oor Suidelike Afrika tot by die Indiese Oseaan en verder.

Die Central Hotel is in die middel van Rua Araújo. Dit is in 1889 tydens die Transvaalse goudstormloop gebou, enkele jare voor die spoorlyn Lourenço Marques met Pretoria verbind het. Die hotel was een van die eerste “vermaakplekke” wat jong, pragtige en desperate Afrikanermeisies van die Suid-Afrikaanse platteland gelok het as taximeisies, kroegmeisies en burleskdansers. En so het jazz, burlesk en mengeldrankies met die spoorlyn gekom wat die goudmyne met Lourenço Marques verbind het. Anders as Suid-Afrika het Lourenço Marques destyds progressiewe en oper wette gehad. Prostitusie was wettig tot die vroeë 1940’s en ’n mens kon 24 uur per dag alkohol koop en dobbel. Daar was reeds ’n gevestigde – wat afgekeur is – kultuur van kroegdrinkery in Suid-Afrika, aangedryf deur die goudstormloop aan die Witwatersrand. In Johannesburg het kroeë en vermaaklokale oral opgeskiet en al hoe meer fortuinsoekers het die gebied binnegestroom. Victoriaanse kroegmeisies in Suid-Afrika het berug geraak as vermaakkunstenaars en baie van hulle het ’n mate van bekendheid plaaslik verwerf. Die bekende kroegmeisies en vermakers het dikwels die plaaslike koerante se skinderrubrieke gehaal en in sommige dorpe het die jong meisies hulle as modetoonaangeërs beskou.

Cockney Liz, The Golden Dane, The Queen of Sheba, The Blonde Venus, La Singularite en The Golden Goose was maar
sommige van die gewilde en hoogs gesogtes aan die Rand. Dié berugte, onafhanklike en misterieuse vroue het mengeldrankies bedien met name soos Pickaxes, Revivers, Nectars, Brand Smashers, Cherry Cobblers, Shandygaffs en Rocky Mountains wat gewild was in Suid-Afrikaanse kroeë in die 1900’s. Die kroegkultuur was deel van die lawaaierige en chaotiese vermaaktoneel aan die Rand, wat veroorsaak is deur ontsaglike hoeveelhede goud. Vertonings van die can-can, burlesk, vuurvreters, “dwergies” en minnesangers het in verslete ondernemings versier met bisarre en ongewone artefakte verkry van verbygaande drinkers: diervelle, antieke wapens en selfs ’n bobbejaan of apie. Groot weelde wat uit die goudstormloop voortgespruit het, was die stimulasie vir ’n uitspattige en raserige sosiale toneel.

Voor die koms van die spoorlyn was Lourenço Marques ’n dorp vir jagters, walvisjagters en slawehandelaars. Teen 1900 het die spoorlyn ’n voortdurende stroom van reisigers van en na die stad gebring en dit het gou ontwikkel tot die kosmopolitiese middelpunt van Oos-Afrika. Die inwoners was ’n kleurryke mengelmoes van Afrikane, Chinese uitge- wekenes uit Mácau, Indiese handelaars, Australiërs en Amerikaners op pad na die Rand se goudvelde, en handelaars en matrose van oral in die Indiese Oseaan. Baie van dié reisigers was mans wat die hotelle en kroeë besoek het, op soek na sosiale vermaak in die stad, wat ’n vraag na Afrikaanse kroegmeisies en dansers geskep het.

Die naglewekultuur was uitgestrek met tot 2 411 ondernemings wat opgeskiet het. Kroeë het gewissel van hutte vir die plaaslikes, Chinese en Indiese agterkamers tot kioske in die Paryse styl (in Beira was daar selfs ’n Japanse bordeeltrein). Die kroeë het ’n sentrale eienskap van die lewe in Lourenço Marques geword en die Rua Araújo die tuiste van die meeste van die ondernemings. Die Bohemian Girl, The Penguin en The Imperium was sommige van die gewildstes en die polisie het orde gehandhaaf met ‘n mengsel van “Latynse ongeërgdheid en kragdadige optrede”. Sommige onthou ’n “lang, stewige” polisieman wat wag gehou het oor die Rua. Die gebied het in die 1940’s gefloreer en Boheme van oor die Portugese kolonies, Suidelike Afrika en die Indiese Oseaan-gebied gelok.

Die 88-jarige Suzette wat nou in die buitewyke van Lissabon woon, sê haar pa was die hoof van die Casino Bello-orkes wat in die Rua opgetree het. Sy sê: “Meesal wit Suid-Afrikaanse meisies is deur die casino’s en danskroeë aangestel. Hulle was gewoonlik desperaat mooi. Wat hulle gedoen het, was dat hulle elke aand opgedaag het tot die tande geklee in lang, pragtige aandrokke en deeglik gemanikuur. Die gaste sou dan ’n kaartjie by die casinokroeg koop met die vergunning om vir een liedjie met hulle te dans. Hulle, dink ek, het die mans ook oorgehaal om drank vir hulle te koop. Dis basies dit, daar was geen openlike prostitusie betrokke nie. Prostitusie was ’n aparte transaksie, wettig en gereguleer. Baie van die taximeisies het inderwaarheid later met van die plaaslike mans getrou. Om die waarheid te sê, twee van my beste vriendinne in Lourenço Marques was voormalige taximeisies; hulle het goed getrou en hulle daar gevestig.”

Die Afrikaanse kroegmeisies van die Rua Araújo het uit verskeie agtergronde gekom, maar meestal van Kaapse en Natalse plaasdorpe, waar baie van hulle vasgevang was as huiswerkers en in die skuld. Sommige het besluit om na Lourenço Marques te gaan, op soek na groener weivelde. Kroegmeisies het tussen £10 en £15 per maand verdien. Hulle is deur voormalige kroegmeisies gewerf wat in Suid- Afrika doenig was en is gratis verblyf en etes belowe. Hulle is ook vertel dat hulle ’n glansryke lewe sou lei met geskenke van ryk mans. Dit was die geval vir sommige: Fanny Bees, byvoorbeeld, het met die Randse miljoenêr Barney Barnato getrou. Kroegmeisies is aangemoedig om by die drinkers se tafels te gaan sit, met hulle te gesels en aan te moedig om geld uit te gee. Dit was moeilik om die wêreld van die kroeg- meisie te betree en die vroue het verskillende ervarings beleef. Sommige het hul pad met die leer opgewerk en het werwers geword. Die werwers het van plek tot plek beweeg en tussen die Rua, Suid-Afrika en Rhodesië geleef, op soek na vroue wat in die klubs sou werk. Hulle was op soek na lang, skraal vroue, verkieslik met blou oë. Meisies is onderhoude toegestaan en gekeur en as hulle ’n werk gegee is, het hulle ook grimering en klere ontvang. Net dit sou sterk motivering vir jong meisies wees wat vasgevang was op plase in Suid-Afrika se platteland en wat gedroom het van ’n opwindende en glansryke lewe. Vir dié meisies was Lourenço Marques ’n ontvlugting en ’n geleentheid om vry en enkel in ’n oper gemeenskap te wees.

Magdalene Smit was so ’n werwer. Sy is in 1898 in die Vrystaat gebore. ’n Jaar ná haar geboorte het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek en was die Vrystaat in ’n staat van verwoesting met die oorlog wat armoede onder die boeregemeenskappe veroorsaak het. Magdalene was ’n babavlugteling wat na die Britse Kaapkolonie gestuur is waar sy grootgeword het. As ’n vlugteling en Afrikaanse meisie was haar vooruitsigte om ’n goeie lewe in die Kaap te geniet maar skraal. Magdalene het in haar laat tienerjare met Edward Lee getrou, maar het hom gou verlaat weens onbekende redes. Sy het toe na Kiteba, in die Belgiese Kongo gereis waar sy met ’n mnr. Guichard geleef het wat haar minnaar vir ses jaar was.

Guichard was ’n Belgiese administrasieagent vir onderwys. Kiteba was ’n afgeleë plek tussen rubberplantasies en tropiese Afrika-reënwoude. Magdalene moes in weelde geleef het saam met ander Franssprekende uitgewekenes in die gebied. Die Belgiese Kongo was berug vir die wrede stelsel van uitbuiting en armoede in teenstelling met die weelderige leefwyse van Europese kolonialiste. Ná ses jaar het die paartjie in 1924 na Johannesburg verhuis en die gewilde Bioscope oopgemaak en bedryf.

Gedurende die 1920’s het Johannesburg ’n ongeëwenaarde ekono- miese opbloei beleef en die paartjie sou met die jazz-gemeenskap ge- meng het. Guichard is in 1925 dood in ’n motorongeluk in Pretoria en Magdalene het die naam Madame Guichard aangeneem, as ’n teken van haar liefde en passie vir haar minnaar sowel as haar aspirasies om in die boonste laag van die gemeenskap aanvaar te word.

Magdalene het as kroegmeisie in Oos-Londen en toe Pretoria gewerk voordat sy eindelik in die Phoenix-kroeg in Lourenço Marques beland het. ’n Eienaardige sameloop van omstandighede het haar na Beira laat trek, waar sy haar aangesluit het by haar wettige man, Edward Lee, wat as werklose daar gewoon het. Magdalene het toe tussen Mosambiek en Johannesburg gereis as Madame Guichard en meisies gewerf vir kroeë in Beira en Lourenço Marques. Haar verhaal is een van hartseer en geheime; kroegmeisies se lewens was dikwels ’n mengsel van glans en verval, stories van geweld, geheime en tragedie.

So was Charlotte Beukes se lewe. Charlotte was van Piet Retief in Natal en het as klerk vir die Departement van Verdediging in Pretoria gewerk. Dit moes ’n troostelose werk gewees het om die minste te sê en daar was nie veel opsies vir Suid-Afrikaanse vroue van die generasie om hulle te bevry van die konserwatiewe en bekrompe Britse en Boere-waardes van die tyd nie. Sy en haar vriend het ’n jong meisie, Maxi, opgesoek wat in ’n hotel in Pretoria gewerk het. Maxi was bekend as ’n werwer van “dançarinas” vir ’n onderneming bekend as The Penguin. Maxi het haar man in Suid-Afrika gelos en haar in Lourenço Marques hervestig om nader aan haar minnaar, ’n luitenant Abreu te wees. Sy het in ’n groot huis saam met vier ander Suid-Afrikaanse danser naby die Chinese Pagodas gewoon.

Die Penguin-kroeg was ’n geel huis aan die Rua en die enigste plek met prostitute van verskillende rasgroepe. Nie net wit meisies nie, maar swart en kleurling meisies het almal daar saam gewerk. Die Penguin was ’n lawaaierige onderneming met ’n atmosfeer baie soos ’n Texas cowboy-fliek. In die 1950’s het die digter Reinaldo Ferreira baie ure daar deurgebring.

Toe Charlotte in Lourenço Marques aangeland het, is haar verskyning as ’n dançarina in die Lourenço Marques Gaurdian aangekondig. Sy het ’n glansryke lewe in die stad gelei. Met ’n goeie salaris en ’n woonstel in die Indiese buurt sou Charlotte die eerste keer in haar lewe vry en anoniem kon rondbeweeg. Die kosmopolitiese atmosfeer van Lourenço Marques was in skrille kontras met die Calvinistiese waardes van Piet Retief. Sy het ’n paar mansvriende gehad, waarvan een ’n kroegman was, en sy het somtyds jong Afrikaanse mans ontmoet wat kondukteurs op die treine was.

Charlotte het swartwaterkoors opgedoen, ’n kwaai vorm van malaria, wat nierversaking en haar dood in 1946 veroorsaak het. Haar lyk is in taamlik omtrede omstandighede ontdek – sy het in ’n ou ongebruikte trein in die spoorwergwerf op die grens van Suid-Afrika en Mosambiek inme- kaargesak.

Maureen Thomas, ’n jong Kanadees, het op ’n afgeleë plaas met haar man in Swaziland gewoon tot in 1947 toe sy in die geheim ontsnap het en na Lourenço Marques verhuis het om ’n kroegmeisie by die Imperium Café te word. Maureen het ‘n klagte van aanranding teen haar man ingedien voordat sy ontsnap het. Haar man was ’n soldaat wat buite diens gestel is, en bekend was as kaptein Thomas. Ná haar verdwyning het hy na haar gesoek en eindelik het sy ’n brief aan hom geskryf waarin sy gesê het sy verwag ’n baba ná ’n verhouding met Lourenço Marques se polisiehoof.

Maureen se man het met die Suid-Afrikaanse owerhede in verbinding getree, en gesê sy het die land onwettig verlaat en dat slawehande- laars haar ontvoer het. Destyds was daar verskeie gruverhale in koerante oor Portugese wit slawehandelaars wat onskuldige, jong wit meisies in Rhodesië en Suid-Afrika bedrieg het en as seksslawe na Lourenço Marques ontvoer het. Dit kon dalk in enkele gevalle waar gewees het, maar beslis nie in die meerderheid gevalle nie. Suid-Afrikaanse moraliteit was gegrond op Calvinisme en Victoriaanse waardes. Van die eeuwisseling tot sowat 1940 was die Portugese gemeenskap in Oos-Afrika baie vryer en meer pro- gressief. Dié progressiwiteit was ’n trekpleister vir “wilde” en gefrustreerde Suid-Afrikaanse meisies op soek na avontuur en vryheid.

Die storie van Maureen se swangerskap was nie waar nie. Maureen het na Durban ontsnap waar sy Alan Young, ’n werwer vir die Imperium ontmoet het. Young het haar hervestiging na Lourenço Marques gereël om by die Imperium te begin werk, maar sy het net drie maande uitgehou, waar sy met drie ander dansers in ’n huis gewoon het. Nadat sy na Suid- Afrika teruggekeer het, het sy nie weer na haar man teruggegaan nie.

Die kroeë van die Rua het aan baie jong Suid-Afrikaanse meisies ’n uitkoms gebied uit die platteland. Lourenço Marques is beskou as ’n klein buitewyk van Europa. Die kroeë, die verskeidenheid mense en die gemaklike leefstyl was alles trekpleisters vir vroue op soek na avontuur.

Die Rua het vermaak vir ’n groot verskeidenheid van klasse verskaf. Die taximeisies van die casino’s was meer bevoorreg en goed versorg as die vroue wat vir ondernemings soos The Penguin gewerk het. In die destydse Lourenço Marques is prostitusie in dieselfde lig beskou as in die huidige Amsterdam. Omdat dit wettig was, was dit gereguleer. Daar was gereelde higiëne-ondersoeke en van die bordeeleienaars was nie noodwendig verafsku deur die gemeenskap van Lourenço Marques nie. Die grootste bordeel in Lourenço Marques was bestuur en besit deur ’n Suid-Afrikaanse vrou met die reputasie van “ ‘n baie ernstige professionele persoon”. Sy het twee kinders gehad wat op skool in Suid-Afrika was. Die Suid-Afrikaans bestuurde bordeel is be- skryf as die grootste en beste, ’n herehuis in die ou Paiva Manso, naby die Rua Araújo en dit het ’n oopdeurbeleid gevolg.

Gedurende die 1960’s en vroeë ‘70’s het die Rua ’n rooiliggebied gebly, waar ontklee- en nagklubs en laataand-partytjies gedy het. Dit het alles geëindig toe die Concordata tussen pres. Salazar en die Katolieke Kerk onderteken is, wat dobbel en prostitusie (maar nie drank nie) in die vroeë 1940’s verbied het. Later, in post-koloniale Lourenço Marques is een van die eerste van ’n reeks “hervormings” op die publiek afgedwing om die Rua “skoon te maak”. Die straat is hernoem na Rua Bagmoyo en baie van die klubs en bordele is verwyder. Spore van die vergange era het agtergebly – sommige strukture en uithangborde is nog herkenbaar, maar is stadig aan die roes in die vogtige, warm klimaat van tropiese Maputo. Die Rua het egter verander. Die gevaar, avontuur en tragedie waarin die kroegmeisies hul lewens in die gebied geleef het, het staat gemaak op die kosmopolitiese gevoel van die ou Lourenço Marques. Mosambiek se meer onlangse ongevoelige ekonomie en die omstrede en vyandige historiese verhouding tussen rasgroepe maak die werklikheid van die Rua onmoontlik in huidige tye.

Die jare van vryheid en sonde in die Rua van 1900 af tot in die 1940’s was die glorietyd van Lourenço Marques, in ’n liberale tyd wat Salazar se Portugal voorafgegaan het en met ’n goudstormloop op sy drumpel. Lourenço Marques was op die kruispad van iets toweragtigs, waar kroegmeisies en hul volgelinge hulle kon verlustig in ’n vryheid en dekadensie wat sedertdien verdwyn het.

Bron:
Dr. Andrew McDonald wat tans ’n sosiale geskiedenis van die tussenoorlogse Lourenço Marques en Beira ontwikkel.

By | 2017-07-31T20:58:06+00:00 July 19th, 2017|Hoofartikels|