Bloed in die reën

ARTIKEL: Christiaan J. de Swardt

Op ’n plaas buitekant die Klein-Karoo staan ’n boer en wag. Hy wag al lank vir ’n druppel reën om sy grond te kom seën…

Só romantiseer ‘n trefferparadeliedjie die boer. Vir hom is reën manna uit die hemel. Hy is maar een van die sowat 40 000 kommersiële boere wat kos aan sowat 56 miljoen Suid-Afrikaners moet lewer. Boere het egter sagte teikens geraak en hulle is kwesbaar.

Van 1990 tot 2016 het 4 116 plaasaanvalle met 1 860 plaasmoorde plaasgevind. Sedert 2010 is 226 plaasaanvalle en 61 moorde per jaar aangeteken; verlede jaar het die syfer gestyg na 372 aanvalle en 75 moorde. Gegrond op ʼn analise van die 334 geverifieerde aanvalle is bereken dat daar meer as 400 individuele slagoffers was. Dié getal sluit die eienaar, sy gesin, vriende, ander familie, werkers asook die werkers se gesinne in. Die gemiddelde ouderdom van slagoffers is 56 jaar.

In die eerste drie maande vanjaar is reeds 77 aanvalle met 20 moorde bevestig.
Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) bereken plaasmoorde in Suid-Afrika op 98,8 per 100 000 per jaar. Dit is ongeveer twee keer meer as moorde op polisielede en drie keer meer as die algemene moordsyfer in Suid-Afrika. Dit is ook 14 keer meer as die wêreldgemiddelde moordsyfer.

Die natuur gaan sy gang. Droogte tref in siklusse. Die kwik styg, ongelukkig ook in gemoedere, en wegholveldbrande verwoes ’n leeftyd se toewyding, opoffering, herinnering én lewens…

Tydens die vlaag verwoestende brande die afgelope somer in die Wes-Kaap beweer Lindsay Maasdorp van die Black First Land First “net soos boere geseënd voel wanneer dit op hul landery reën, mág onderdrukte swart mense ook geseënd voel wanneer wit boere se plase afbrand”.

Julius Malema die EFF-leier, dreig en verkondig grondgrypery. Die staatspresident, Jacob Zuma, begin ook nou dieselfde deuntjie sing, terwyl ander sy voorbeeld volg en hul volgelinge aanmoedig om grond onwettig te beset.
“Uitsprake soos dié hits brandstigting aan en skep ʼn klimaat waarin grondgrypery en geweld geregverdig word. Dit is nie bloot aanhitsing tot geweld nie; daar is ook ʼn haatspraak-element daaraan verbonde. Maasdorp vra selfs die retoriese vraag: ‘Wanneer kan wit mense doodgemaak word?’ Suid-Afrika is heeltemal te geduldig met kru, swart rassisme met geweldsondertone. Wit en swart moet dit verwerp. Dubbele rassestandaarde hoort nie in ʼn demokrasie wat rassisme verwerp nie,” meen dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit.

Koerantvoorblaaie wys die grusame en wrede werklikheid uit: plase word omsingel en mense word gemartel tot hulle sterf. ’n Vrou word ure lank verkrag terwyl haar man gedwing word om dit te aanskou, mense se koppe word vergruis, hulle word met kookwater en strykysters verbrand, met ʼn pik geslaan, hul kele word oopgesny en hulle word aan die brand gesteek, ’n elektriese boor word gebruik om gate in ’n vrou se voete te boor en ’n man se testikels word uitgesny en deur sy aanvallers geëet nadat hulle dit gekook het. Onnodige fisieke geweld is toegedien om redes wat nie geregverdig kan word nie.

Lorraine Claasen, ʼn misdaadnavorser en kriminoloog verduidelik dat die polisie en AfriForum se syfers “vir plaasmoorde relatief naby aan mekaar is, wat daarop dui dat AfriForum se vermoë om die data in te samel baie goed is. Dit is egter kommerwekkend dat AfriForum die afgelope drie jaar meer plaasmoorde as die SAPD aangeteken het. Dit word ondersoek. Die groot verskil tussen AfriForum en die SAPD se syfers ten opsigte van plaasaanvalle is nie verrassend nie. Die rede hiervoor is omdat plaasaanvalle so gereeld plaasvind (letterlik meer as een per dag), dat ’n plaasaanval waar niemand vermoor is nie, nie meer nuuswaardig is nie. Dus word daar gewoonlik nie in die media daaroor verslag gedoen nie. Dit gebeur in sekere gevalle selfs dat sulke aanvalle nie eers aan die polisie gerapporteer word nie en dus kan verwag word dat die ware syfer selfs hoër as die SAPD s’n is,” sê sy.

Claasen het in haar navorsing verskeie faktore en tendensies tydens die analise van die geverifieerde data vir 2016 geïdentifiseer:

Toegang

  • Die eerste kontak tussen aanvallers en slagoffers vind gewoonlik plaas by wyse van ʼn hinderlaag wat vir die slagoffers gestel word of hulle word oorrompel waar hulle buite op die eiendom besig is om te werk of om byvoorbeeld waterpompe aan en af te skakel.
  • Slagoffers word ook in hul huise oorrompel as die deure oop is of hulle word verras as toegang tot die huis in die nag verkry word sodat daar toegeslaan word terwyl hulle slaap.
  • Toegang tot die slagoffers se eiendom word verkry deur elektriese heinings en draadheinings te knip of onder die voorwendsel dat beeste/skape of ander goedere op die eiendom aangekoop moet word. Waar eienaars CCTV-kameras gebruik, word die kameras ontkoppel en/of stukkend geslaan sonder dat die eienaars bewus is daarvan.

Roof

  • Artikels wat die meeste geroof word, sluit in die inhoud van die kluis, wapens, ammunisie, selfone, skootrekenaars, tablette, juwele, elektroniese toestelle, kontant en voertuie. Uit die beskikbare data is vasgestel dat meer as 90 vuurwapens tydens die aanvalle van die slagoffers geroof is.
  • In 18% van die geanaliseerde aanvalle is die slagoffer tydens die aanval met ʼn vuurwapen gewond. In die meeste van die gevalle, 78%, is die slagoffers aangerand en/of ernstig beseer met verskeie wapens. In 6% van die voorvalle is vermeld dat die slagoffer ʼn aanvaller tydens die aanval uit selfverdediging met ʼn vuurwapen gewond het.

Die gevaarlikste dag van die week

Die meeste plaasaanvalle het, soos voorheen, op ʼn Sondag plaasgevind, gevolg deur Saterdag, Woensdag en Vrydag. Minder aanvalle vind op ʼn Maandag, Dinsdag en Donderdag plaas. Aanvallers is moontlik meer geneig om op Sondae aan te val, omdat hulle hul slagoffers met hul terugkoms van die kerk, gewoonlik op ʼn vasgestelde tyd, kan inwag. Mense is ook geneig om oor naweke meer rondom die huis te wees; dit is vir die aanvallers voordelig, want hulle kan verseker wees van toegang tot die kluis se sleutels.

Tyd van die dag

Aanvallers slaan meestal tussen 20:00 en ongeveer 03:00 toe op plase en kleinhoewes. Slagoffers word in hul huise oorval terwyl hulle slaap en word eers wakker as die aanvallers reeds in die huis is of terwyl hul besig is om veiligheidshekke, diefwering en deure af te breek. Dit is ook makliker om in die nag van die misdaadtoneel af te vlug.

Die aanvallers

Daar is gevalle waar slegs een oortreder by ʼn plaasaanval betrokke is, maar daar is ook gevalle waar tot tien aanvallers toeslaan. Meer aanvallers kan dui op ʼn meer georganiseerde groep of bende wat geneig is om vooraf inligting oor die eiendom en die roetine van die eienaars en werkers in te samel. Die aanvallers is geneig om hul gesigte te bedek met klapmusse en om handskoene en oorpakke te dra.

Kwesbaarheid van plase in vergelyking met kleinhoewes

Die analise toon dat ongeveer 75% van aanvalle op plase geskied en 25% op kleinhoewes. Die reaksietyd van buurtwagte, veiligheidstrukture en -maatskappye en die nabyheid van polisiestasies in areas waar kleinhoewes voorkom, kan ʼn rede wees waarom aanvalle hier afgeneem het. Plase is soms ver van die naaste polisiestasie en plaaswagte is soms ook nie in staat om vinnig te reageer op noodroepe nie. Aanvallers kan dus wegkomvoertuie doeltreffend gebruik of gekaapte voertuie verlate ʼn ent van die geteikende eiendom af los en te voet of met ʼn ander voertuig vlug.

Plaaswerkers as slagoffers

In 12% van die geverifieerde gevalle is werkers ook geteiken. Die persentasie kan egter baie meer wees, aangesien daar nie altyd in die media melding gemaak word van die werkers wat ook tydens ʼn aanval teenwoordig was nie.

Wapens gebruik tydens aanvalle

Wapens sluit in vuurwapens (pistole, gewere, haelgewere), pangas, messe, byle, pype, knopkieries, stomp voorwerpe en spiese. Slagoffers word met toue, elektriese kabels, kabelbande, skoenveters of drade vasgebind.

Verkragting en poging tot verkragting

Die beskikbare inligting maak melding van tien gevalle van verkragting of poging tot verkragting. ʼn Analise van misdaadstatistiek in alle gebiede toon ʼn noemenswaardige donker syfer vir verkragting, omdat dit dikwels nie aangemeld word nie. In sommige gevalle vra die slagoffers die media om inligting oor verkragting te weerhou weens die sensitiewe aard van dié soort misdaad.

Ontvoering

Vyf gevalle is geverifieer waar ʼn slagoffer tydens ʼn plaasaanval ontvoer is. Die slagoffers is in ʼn motor ingedwing en in ʼn ander gebied afgelaai of op ʼn ander plek vermoor.

Motorkapings

In 23% van die gevalle is die slagoffer se motor gekaap. In 6% van die gevalle is die motor egter ʼn kort afstand van die toneel verlate gevind.

Claasen sê deur die analise van aangemelde en geverifieerde voorvalle kan tendense geïdentifiseer word. “Baie gevalle word egter nie aangemeld nie of daar is nie genoegsame inligting om dit by die gesamentlike databasis in te sluit nie. Ons doen ʼn beroep op slagoffers om voorvalle by TLU SA of ANI aan te meld sodat die landelike gemeenskap in die toekoms beter bygestaan en ingelig kan word oor veranderings in die modus operandi van misdadigers.”

Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, maan dat die verkeerde gebruik van statistiek tot onrustigheid by die landbougemeenskap lei. “ ʼn Ontleding van die onlangse plaasmoordstatistiek wat in die media gerapporteer is, toon dat van die moorde, volgens die definisie van ʼn plaasaanval, nie ʼn plaasmoord was nie. Die voorkoms van plaasmoorde die afgelope tyd spreek boekdele oor die volgehoue misdaadaanslag op boere, plaaswerkers en hul gesinne, wat uiteraard ook Suid-Afrika se strewe na voedselsekerheid en ʼn stabiele landelike gebied benadeel. Ons verwerp alle uitsprake oor die besetting van landbougrond en aansprake dat boere hul grond op ʼn onregmatige wyse bekom het en dit daarom geregverdig sou wees om die grond te beset en terug te neem.”

Aansluitend hierby waarsku Claasen teen fopnuus wat daarop ingestel is om mense op te sweep en vrees te wek. Voorbeelde hiervan is die gerugte destyds op sosiale media van ooggetuies wat brande sien stig het, terwyl dit eintlik brandbeheerspanne was wat brandpaaie geskep het. Die aantygings is intussen ondersoek en die bevinding was: vals.

In ’n ontstellende Carte Blanche-insetsel onlangs het ’n voormalige gevangene beweer Julius Malema bied hulle geld en wapens aan om wit boere uit te moor. Geen substantiewe bewyse is sedertdien gevind nie en dit bly beweringe.

Die hoopvolle troos is dat daar vordering gemaak word, nie net ten opsigte van plaasgeweld nie, maar misdaad per se. “Ons werk, waar moontlik saam met die SAPD, aangesien dit primêr die SAPD se taak is om misdaad te beveg. As deel hiervan plaas AfriForum deurlopend ook druk op die regering om sy plig na te kom rakende misdaadbekamping. Die SAPD het baie gebreke, maar aan die positiewe kant sal sy nuwe proaktiewe Back-to-Basics-benadering hopelik vrugte begin afwerp indien dit volhoubaar aangewend word. Deur die klein goedjies reg te doen word daar suksesvolle arrestasies en skuldigbevindings verseker,” wys Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, Solidariteit se onafhanklike burgerregte-organisasie, uit.

“Jy hoef nie aan misdaad uitgelewer te wees nie! Individue en gemeenskappe moet self, binne hul vermoëns en binne die raamwerk van die wet verantwoordelikheid vir hul veiligheid neem. Raak betrokke by jou gemeenskap se buurtwag en ander veiligheidsinisiatiewe. Waar daar sulke proaktiewe optrede in plek is, hét misdaad afgeneem. Suid-Afrikaners kan nie bekostig om naïef om te gaan met hul eie veiligheid nie. Dit is belangrik dat ons nie paranoïes moet raak nie, maar wel paraat moet wees omdat misdadigers enige tyd, enige plek kan toeslaan.”

Die gevolge van plaasaanvalle en plaasmoorde is ingrypend. Families, gesinne en gemeenskappe verbrokkel en stort in duie. Werkloosheid neem toe, kosproduksie neem af en vertroue tussen gemeenskappe en in die regering en die polisie vertroebel.

Slagoffers van misdaad moet nie skroom om om hulp by trauma-eenhede aan te klop nie. Die nagevolge – nie net materieel, finansieel en fisiek nie, maar ook sosiologies en sielkundig – is traumaties en die behoefte om hulp en berading is groot. Dit moet met erns en dringendheid toegepas word. Hier het die land se regering die mag om daadwerklike veranderinge te weeg te bring – as die wil net daar was!

*Dans in die reën is ʼn liedjie van Touch of Class

Artikel geskryf deur CJ De Swardt

Bronne:

Statistiek deur TLU SA se databasis.
Plaasaanvalle en plaasmoorde: Tendensie 2016 – opgestel deur Lorraine Claasen vir AfriForum se Navorsinginstituut (ANI)

Christiaan J de Swardt is ’n voormalige jeug-, vermaak en sosiale redakteur van DEKAT. In sy loopbaan, wat oor drie dekades strek, het hy in uiteenlopende genres vir verskeie koerante, tydskrifte en televisie in Afrikaans én Engels geskryf. Sy rubrieke, glansprofiele en ondersoekende diepte-artikels is met talle toekennigs bekroon. Tussen dié erkennings is twee Mondi Paper-tydskrifpryse en drie Caxton Magazines Excellence-pryse vir joernalistieke uitmuntendheid. Dié skrywer spog ook met drie BASA-toekennings (Business & Arts SA) sedert 2015. Hy is verlede jaar met twee BASA-toekennings bekroon: silwer (as beste kunsresensent – teater en musiek – vir sy evaluerings in DEKAT en Vrouekeur) en goud (as beste kunste-nuusjoernalis vir sy werk op LitNet). Hy is die enigste Afrikaanse skrywer wat dié welslae behaal het. Sy jongste gehalte-bydrae, Bloed in die reën, vir DEKAT, getuig nie net van deeglike navorsing nie, maar ook van deernis en sosiale bewustheid.

By | 2017-07-07T23:06:21+00:00 July 1st, 2017|Hoofartikels|