Babel. Babilon. Babylonstoren

Drie woorde. Drie betekenisse. Een plek.

Die ikoniese tuine van Babylonstoren is in tale, geskiedenis, skoonheid, aarde, en vrugbaarheid gevestig. Die Drakensteinvallei is nie net die bakermat van inheemse Afrikaans nie, maar hier is daar al van die voortye Khoi- en Hottentottale gepraat. Later het Hollands, Frans en Engels bygekom. Tydens die aanlê van die tuine is daar baie stukke porselein van die VOC opgegrawe wat daarop dui dat die plaas al sedert die eerste setlaars bewoon is. En dan die tuine self… wat herrinner aan die grootse tuine van Babilon.

Dit was ‘n warm, droëe en stowwerige Kaapse dag toe ek die tuine saam met ‘n paar gaste en die filosofies-praktiese tuinboukundige en landskapsartgitek, Liesl van der Walt, deurstap. Die pragboek, The Gardens of Babylonstoren, word bekendgestel en die fotograaf, Heidi Bertish, is ook by ons.

Stofstorms gee die lug ‘n vreemde ligroos skynsel en teen Simonsberg sak daar reën uit. Die hitte is soms onuithoudbaar.

Heidi onthou die eerste foto wat sy van die tuin geneem het, van die dak van die hotel af. Dit was ‘n koue wintersoggend net voor dagbreek in Augustus 2016. Sy vertel: “Ek het gevra dat ‘n leer die vorige aand vir my uitgesit word. Terwyl ek opklim na die dak word ek toe spyt dat ek nie handskoene aangetrek het nie. My vingers wou vries. Maar toe ek op die dak kom is ek met ontsag oorval oor die nuwe perspektief, grootsheid en skaal van die tuine. Ek het nie meer die koue gevoel nie. Voor my het die grafiese patrone en eindelose landskap in plek geval. Ek het my kamera opgestel en gewag dat die son oor die Babylonstorenkoppie aan die einde van die koejawellaning moes opkom. Kliek! Ek het dit gekry!”

Dit was die begin van meer as 800 foto’s wat Heidi oor ‘n jaar in die tuin geneem het. Sy het ‘n besondere verhouding met die tuin begin opbou. Nie net as ‘n ruimte met ‘n inherente styl nie, maar ook vanuit ‘n tuinboukundige perspektief. Sy wou beelde van haar gunstelingplekke vasvang. Veral die groenteblokke wat met appel, peer en kweper omlyn is. “Die oggendlig is magies hier, daarom het ek hierdie blok vir die groepskoot gekies. Ek moes op ‘n leer staan sonder stabiliteit. Met lae lig, en ‘n wankelende leer. En ek moes asem ophou om die sluiter te druk…,” vertel Heidi.

“Groentetuine is diep in ons tuinboukultuur en erfenis ingebou. Babylonstoren het hierdie onderbou, asook die die hart, die warmte, die vrygewendheid,” mymer sy verder.

Om die tuine se omvang die beste te verstaan is om na ’n lugfoto te kyk. Om te sien hoe die tuin oor 3.5ha tot byna teen die koppie uitstrek, wat op ou kaarte as Babylontoren aangewys word. Die einste koppie wat vandag ‘n natuurreservaat is en waar steenbokkies, duikers, dassies, muishonde, slange, valke en uile ‘n tuiste het.

Om die tuine te beskryf is haas onmoontlik omdat Liesl en haar span soveel aandag aan elke vierkante meter gee. Dit is ‘n tuin met ‘n sterk ontwerpersondertoon, sonder om werklik formeel te word. Daarvoor is daar te veel vryhede toegelaat waarin die tuin op sy eie kan ontwikkel en groei. Die omgewing, die geskiedenis, die ou Kaapse geboue en die nabyheid van berge en water maak dit ‘n plek van buitengewone skoonheid en kan jy nie vergeet dit is tipies Suid-Afrikaans nie.

“Ek het soveel vroegoggende en aande die lig gejaag om die betowerende oomblik en lig met my kamera vas te vang. Die tuin het ‘n besondere gravitas. En kombineer jy dit met styl, die ontwerp en ruimte, is jy op ‘n plek wat met jou siel praat,” vertel Heidi verder.

Later donder en blits dit en die reën sak al om ons uit. Dit voel asof ons in ‘n straling van die elemente opgevang is. Maar met ons voete stewig in die tuin geplant.

Met dank aan Babylonstoren en Heidi Bertish @HeidiBertish

Gerard Scholtz











By | 2018-02-22T18:52:28+00:00 February 18th, 2018|Kultuur, Styl|