Afrikaans is cool, my bra


Geskryf deur Marguerite van Wyk

Afrikaans evolve, check it uit! Engfrikaans (’n same ansing van Afrikaans en Engels) is geen rede tot angs nie, sê die kenners. Alle tale “leen” woorde by mekaar. Afrikaans verander, maar sal nie verdwyn nie.

Luister hier jou yuppie scum
Jou preconceived millenium man
Ek maak jou kwaad want ek weet ek kan
Gee my nog ‘n vatlap government plan.
Karen Zoid, Afrikaners is plesierig (Poles Apart, 2001)

Fokken beter as ‘n chopie oppie vuur
Fokken dans bra
Fokken check it uit
Hier fokken kom hy nou
Hoes ja

Dans oppie speakers…
Jack Parow and Francois van Coke, Dans Dans Dans (Jack Parow, 2010)

Ken jy hierdie taal? Verstaan jy hierdie taal? Praat jy soms so? Nagtegaal voeg by: “Afrikaans was ’n kombuistaal, ’n brabbeltaal Dan ken jy Engfrikaans – ’n samevoeging van Afrikaans en Engels (soms ook Afrilish genoem – Afrikaans en English). Die term is die eerste keer gebruik nadat Jackie Nagtegaal se debuut tienerroman Daar’s vis in die punch in 2002 verskyn het. Dit was toe die digter en kritikus Lina Spies in Die Burger hewig te velde getrek het teen Nagtegaal oor wat sy aan ons taal doen – en haar van “moedermoord” beskuldig het. Ander akademici, soos Philip John (Universiteit van Port Elizabeth, nou Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit het ook daaroor besin in “Meer dydelikhyt oor die punch en die vis” in die joernaal Literator (April 2004).

John noem dat ook die skrywer Emile Joubert kapsie gemaak het toe Toast Coetzer met Nagtegaal ’n onderhoud gevoer het met Engfrikaans as voertaal. Maar dis nou nie meer vir ons so snaaks nie – ons praat almal (ja, natuurlik is dit nie regtig almal nie!) soms so. Wie van ons is nie cool daarmee nie, my bra? Al wonder die ouer garde (en van die jongeres) soms of suiwer Afrikaans nog bestaan. Moet ons nie net besef alle tale, soos die mens, groei en verander nie?

Soos die slotsom waartoe prof. Marné Pienaar, hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit Johannesburg, gekom het: dat Engfrikaans, met sy oorsprong in die koms van die Britse Setlaars in 1820, eintlik nog altyd bestaan het. “Kyk byvoorbeeld na Andrew Geddes Bain se “Kaatje Kekkelbek”, wat al in 1838 (ongeveer die tyd van die Groot Trek) geskryf is,” sê sy:
My name is Kaatje Kekkelbek,
I come from Kat Rivier,
Daar’s van water geen gebrek,
But scarce of wine and beer.
Myn A B C at Philip’s school I learnt a kleine beetje,
But left it just as great a fool
As gekke Tante Meitje.

Nagtegaal voeg by: “Afrikaans was ‘n kombuistaal, ‘n brabbeltaal vir baie. Intussen het dit sy eie reg aangeneem en bestaan voort, postapartheid, post-skuld, post baie se skaamte. Afrikaans kan nie verdwyn nie, maar hy kan verander.
“Afrikaans is ook sterk genoeg vir ander tale om by ons te kom leen. Woorde soos biltong en boerewors.” So, dis nie net ons wat leen nie – inderdaad, die meeste tale gebruik leenwoorde.

Uit die mond van ’n millennial, die akteur Pietie Beyers, kom hierdie gedagtes: “Geforseerde of ge- dwonge suiwerheid laat my cringe, terwyl spontane suiwerheid my excite. Jy moet praat en kommunikeer soos dit vir jou lekker is, wat ook al vir jou eg voel. Die punt is mos om jou boodskap eerlik oor te dra. Taal is mooi en so ook is integrasie tussen mense. Bou eerder brûe as om hulle te brand omdat jy trots is. Vrees vir verandering is nie die antwoord nie – laat die gety spoel soos hy wil. Laat die puriste puriste wees, en die mengers meng, each to their own.”

Interessant is dat die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) ook nie glo Engfrikaans is ’n skrik- of skelwoord nie. “Wanneer ons van Afrikaans praat, bedoel ons die Afrikaansgebruiker, en nie net die Afrikaansspreker nie,” vertel dr. Niel le Roux, SBA-hoof. “Indien ons sterk gaan aandring op suiwer Afrikaanse gebruik of as organisasie aandring op suiwer Afrikaans, sal dit beslis tot vervreemding lei pleks daarvan om meer mense na Afrikaans en die SBA aan te trek. Ons gebruik hier en daar self Engfrikaans. Soos byvoorbeeld, event, in amptelike uitnodigings en dit is nou ook in die HAT-woordeboek opgeneem. Ons praat van Artscape en nie Kunstekaap nie.
In dié geval is dit juis nodig omdat Artscape duidelik buite op die gebou staan teenoor Kunstekaap, klein, in ’n hoekie, wat niemand raaksien nie. Die Engels is nodig vir onmiddellike identi kasie.” Kyk maar na die Duitsers, wat ook kwistig leen by Engels en byvoorbeeld na ’n selfoon as “handy” verwys, sê Le Roux. Dan is daar ook die alomteenwoordige “selfie”, in die meeste tale, sê hy.

Die kinderboekskrywer Carina Diederichs-Hugo sê elke taal het slengtaal, word gemeng en het leenwoorde. “Nederlands het byvoorbeeld begin verengels en nou ‘leen’ hulle woorde uit Afrikaans om dit teen te werk, byvoorbeeld roltrap, hysbak, selfoon. Maar nogtans meng hulle ook hul taal,” sê sy. Dit is dus duidelik ’n universele verskynsel. Pienaar sê sy lê nie saans wakker oor dié “natuurlike verskynsel nie”. Waaroor sy haar wel bekommer, is “dat mense hulle skynbaar al hoe swakker uitdruk – in enige taal”.

Sy sê verder: “Taalvermenging (of kodewisseling) kom algemeen voor in veeltalige gemeenskappe en Suid-Afrika en Afrikaans is geen uitsondering nie. Voor 1820 het Afrikaans uitgebreid geleen by die Khoi-tale, Frans, Duits, Maleis en natuurlik ook Afrika-tale. Dit is eers toe Afrikaans in 1926 ’n amptelike landstaal geword het, dat daar ’n geweldige tekort aan gestandaardiseerde terminologie was en daar op groot skaal met terminologie-skepping begin is. “Veral tegniese terme is toe op groot skaal direk uit Engels vertaal. Gaan kyk maar na Afrikaanse motorterme: hand brake – handrem, seat belt – sitplekgordel, steering wheel – stuurwiel. Afrikaner Nasionalisme het ook groot status aan veral Standaardafrikaans gegee wat ongeveer gelyk gestel is aan suiwer Afrikaans en anglisismejag,” vertel Pienaar.

En dan is daar Kaaps, sekerlik een van die grootste variëteite van Afrikaans, wat nooit hierdie suiwering ondergaan nie en nog altyd gekenmerk word deur ’n hoë vlak van kodewisseling, sê Pienaar.

Nagtegaal, ’n advokaat, en baie ander professionele mense, gebruik Engels as die voertaal in hul daaglikse omgang in ’n land waar dit soveel mense se tweede taal is. Sy glo “ons moet probeer brûe bou” in ’n kultuur- ryke land waar daar 11 tale is en dat dit goed is om by mekaar te leen.

“Taal is die kern van enige kultuur, die kombers wat ons sagkens om ons vou – maar tog het ons as Suid-Afrikaners ook ’n wyer kultuur, met ’n geskiedenis in gemeen en ons kan onsself ook daaronder in tuck. As ons soms ons taal met ander deel en hul taal weer by ons s’n voeg, kom ons almal nader aan mekaar, ” sê Nagtegaal.

En ja – Afrikaanssprekendes se hoë vlakke van Engelstaalvaardigheid is juis wat dit vir hulle maklik maak om tussen die tale te beweeg, sê Pienaar. En omdat Standaardafrikaans nie meer as die alfa en die omega beskou word nie, is mense gemakliker met kodewisseling, sê sy. Standaardafrikaans word al hoe minder amptelik gebruik – terreine soos die regspleging, hoëronderwys en veral die sakewêreld is al jare lank Engels. “Vermaak, insluitende rolprente, die internet, teater, elektroniese speletjies en so meer, is grootliks in Engels beskikbaar,” meen sy.

Oor die herrie rondom Daar’s vis in die punch 15 jaar gelede, herinner Pienaar ons die boek is in tienertaal, deur ’n tiener, geskryf en “vir tyd en ewigheid word tienertaal al gekenmerk deur die gebruik van sleng, en een van die hoofkenmerke daarvan is kodewisseling. Nie net hier nie, maar ook in Nederland, Duitsland, noem maar op”.

Diederichs-Hugo aanvaar hierdie siening nie so maklik nie. “Jackie se boek het die verkeerde indruk geskep – dat alle tieners so praat en dat alle tienerboeke maar ’n sameflansing is van Afrikaans en Engels. Die ‘reël’ is dat jy taal meng in dialoog want almal meng hul taal, maar dat die narratief in goeie Afrikaans bly. Jackie het nie hierby gehou nie en sodoende die tienerboekgenre meer skade as goed gedoen.”

Miskien is die angs wat oor die “onsuiwerheid” van taalgebruik in Afrikaans bestaan, en beslag kry in kritiek teen Engfrikaans, dalk angs oor iets heel anders?

Laat Nagtegaal – wat die wiel oorspronklik aan die rol gesit het – dan hier die laaste woord kry: “Mens moet jou afvra, is dit slegs taal wat die identiteit van ’n groep mense bepaal? Ek neem altyd aan die [geveg oor die] behoud van Afrikaans gaan grootliks oor die behoud van kultuur. In ’n paar studies van tale wat in die minderheid is en uitsterf, is dit bevind taal is slegs die voernorm, en geensins die somtotaal van die kultuur nie. Biltong is steeds biltong, al noem jy dit jerky. ’n Boereworsrol proe dieselfde al noem jy dit wat.

“Ek is mal oor Afrikaans, want dit is my taal. Dit is die taal waarin ek leer tel en dink het. Dis die taal waarin die wêreld die eerste keer vir my sin gemaak het. As ek Engels praat, doen ek nie afstand van my kultuur of geskiedenis nie. Ek sal aanhou Afrikaans praat solank as wat ek leef. Soms vleg ek Engels in, soms nie, soms probeer ek Xhosa inbring, soms nie. Mens kan brûe bou met taal en ek wens ons doen dit meer.”

Om die digter Adam Small na te doen – Ko’ laat ons praat. Sommer in al die tale wat ons kan


Die volledige artikel kan in DEKAT se Julie/Augustus 2017 uitgawe gelees word.

By | 2017-07-31T21:02:45+00:00 July 16th, 2017|Taal|